EK wil nou nie spoke opjaag nie, maar sal graag agter die kap van die byl wil kom en ook wil hoor of daar mense is wat dieselfde ervaring al as ek beleef het.
Na ’n lang week by die werk, wil ek gewoonlik ’n bietjie ontspan en gaan graag na werk op ’n Vrydag na ’n bekende restaurant/kuier-plek in Hoofstraat.
Dit het nou al by ’n paar geleenhede gebeur dat ek besluit om bietjie wyn te nuttig (wyn per glas).
By die eerste geleentheid het ek presies twee biere gedrink nadat ek ietsie geëet het.
Nodeloos om te sê, nadat ’n mens darem geëet en twee biertjies gedrink het, is mens mos gewoonlik nog heel staande.
Daarna besluit ek om af te sluit met ’n glasie wyn. Voordat ek nog my wyn klaar gedrink het, kan ek eensklaps NIKS onthou nie.
Ek het genadiglik darem die volgende oggend wakker geword in my eie bedjie – hoe is dit moontlik dat die wyn so kan slaan?
Dit het my nou al twee keer oorgekom, elke keer as ek wyn per glas bestel.
Ek het my storie vertel vir vriende en kollegas en het ten minste van nog sewe mense gehoor wat dieselfde ervaring gehad het by daardie spesifieke kuierplek en by die kuierplek reg daaronder.
Nou wil ek weet: Is daar iets in daai wyn? Was dit dalk gedokter? Is daar nog Paarliete wat dieselfde ervaring gehad het?
Ek vra om verskoning as dit my eie liggaam is wat my so in die steek laat, maar as daar iets meer in steek, hoop ek om nog ’n arme jong meisie verleentheid of selfs erger te spaar.
Non-Alkoholis Anoniem