PNIEL VILLAGERS het Saterdag hul hoop op die titel lewendig gehou toe hulle die voorlopers in die Superliga B kompetisie, Collegians, met 18-3 geklop het. Pniel was rustyd reeds met 10-3 voor.
Die wedstryd het vir die tuisspan baie opwindend begin toe die linkervleuel Gavin Petersen in die eerste minuut oorgeduik het vir ’n onvervyfde drie.
Die besoekers was duidelik geskud en kon hierna geen houvas op die wedstryd kry nie.
Pniel se pak voorspelers was ook gans te sterk en ervare vir die ligte pak van Collegians en het met dié voordeel baie omgekeerde besit in losskrums, sowel as op die grond, gewen.
Alhoewel beide spanne probeer het om aanvallende hardlooprugby te speel, het die nat en modderige oppervlakte daartoe bygedra dat baie ongedwonge foute deur beide spanne gemaak is.
Die telling kon ook hoër vir Pniel gewees het as die skoppers nie maklike doelskoppe en strafskoppe verbrou het nie.
Pniel was ook ongelukkig om nie ’n vierde drie aan te teken nie, wat ’n waardevolle bonuspunt sou beteken het.
Vir die wenspan het die vaste vyf die donkiewerk gedoen terwyl die lostrio kompeterend was by die afbreekpunte.
Collegians is ’n span wat daarvan hou om met die bal te hardloop, en Saterdag was dit weer die geval.
Pniel se agterspelers het egter goed verdedig en daarin geslaag om geen drieë af te staan nie.
Pniel se drieë is gedruk deur Petersen, Eugene Francis (skrumskakel) en Claude Voss (flank). Graeme Sambo (heelagter) was in die kol met ’n strafdoel.
Pniel Villagers speel dié Saterdag teen die nuwe voorlopers in die liga, Kraaifontein, op laasgenoemde se tuisveld.