SATERDAG op Bellville het die bal weereens verkeerd gespring vir die span van Young Peoples toe hulle in die laaste minute van die wedstryd met 43-35 vasgeval het teen Bellville-Tech.
Peoples is besig om as ’n goeie eenheid te ontwikkel en het vir Bellville-Tech met goeie hardlooprugby groot kopsere besorg. Die rustydtelling was 20-19 vir Peoples.
Die Tiere se voorhoede het hul man deeglik in die skrums gestaan teen die swaar voorspelers van die tuisspan.
Bellville-Tech het eerste punte aangeteken toe hul vleuel onder die pale gaan druk het ná swak verdediging deur die besoekers.
Die Tiere het egter nooit gaan lê nie en Dominique Daniels (speler van die wedstryd) het na ’n goeie agterlynbeweging sy eerste drie gaan druk om die telling na 5-7 te bring.
Ná ’n strafdoel deur Daniels het die Tiere voorgeloop met 8-7. Die besoekers het hierna verwoed aangeval en Luantion Abelse is met blote vaart oor die doellyn vir Peoples se tweede drie om die telling 13-7 te maak.
Ná Bellville-Tech hul tweede drie behaal het, het Dominique Daniels langs die kantlyn af genael vir sy tweede drie. Bellville het egter vinnig teruggeantwoord met ’n drie om die rustydtelling na 19-20 te bring.
Ná swak verdediging deur Peoples het die tuisspan eerste punte geruik in die tweede helfte, deur middel van ’n drie. Na strafdoele aan beide kante het die Tiere met hernieude vuur begin speel en Johan Fortuin het gaan druk om sy span met 30-29 te laat voorloop.
’n Groot slag het die Tiere getref toe Daniels die veld moes verlaat met ’n heupbesering.
Weens ’n gebrek aan konsentrasie onder Peoples se agterspelers het Bellville-Tech se heelagter ’n losbal deurgeskop en onder die pale gaan druk. Met Peoples se vars manne op die veld het die lem van die Tiere, Ben Martin, amper die wedstryd vir die besoekers beklink met ’n skitterende drie in die hoekie om met een punt agter te loop met 36-35.
Peoples het in die laaste minute sterk aangeval om die uitklophou te plant, maar ’n hanteerfout agterlangs is uitgebuit deur Bellville-Tech om die wedstryd met 43-35 te wen.
Peoples se tweede span het 0-43 verloor, die derde span het 19-42 verloor, en die o.20’s het 0-19 verloor.