Lesers loop van dorp tot dorp
2008-08-07
MET die bekendstelling van die kultuurorganisasie Kairos vroeër vanjaar in die Paarl, is beloof om gereelde produksies te organiseer, om ’n verhoog vir woordkunstenaars te skep. Die skrywer Petro Rhode en haar vennote Lutfie Hendricks en Margareth Jacobs het die daad by hul woord gevoeg, en beplan sommer ’n hele rits voorleesgeleenthede in verskillende dorpe vir (veral) opkomende skrywers. Die eerste voorleesaand vind plaas op 20 Augustus, by die ateljee van die gemeenskapsradiostasie in Paarl, Radio KC. Hierdie aand word in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum, as deel van hul Taalmaandprogram aangebied. Petro bied die program, “Met woord en melodie”, wat geborg word deur die ATKV, op Radio KC aan, en mense wat die aand optree, kry die geleentheid om hul werk “op die lug” voor te lees. Die dorpe wat daarna aan die beurt kom, is Wellington, Gouda, Saron en Ceres. ’n Uitnodiging word dus gerig aan enigeen wat graag sy/haar hand aan die pen waag of selfs weet van iemand wat skryf, om van hulle te laat hoor om dan by so ’n voorlesing op te tree in hul betrokke dorp. Gevestigde skrywers kan gerus ook hulle gewig ingooi. Dit sal beslis ’n eer wees om in elke dorp ’n deurwinterde skrywer te hê wat aan die voorleesprogram meedoen, sê Petro. ’n Gemeenskapsteatergroep is ook nog in die vooruitsig, en heel moontlik is daar voor die einde van die jaar drama op die planke. Kontak Petro by 076-3049627 of 021- 862-3636 of Lutfie by 072-893-5651.
More
News
|