Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rekords verpletter

Rekords verpletter
 
2008-08-07

Jaco van Wyk

MET die grootste punteverskil nog, die meeste punte aangeteken deur een speler, en die meeste toeskouers tydens interskole, het Hoërskool Gimnasium Saterdag die rekords, en die trane, ewe hard laat spat op ’n propvol Faurestraat-stadion.

Sommige toeskouers vind die 35-8 telling vleiend, aangesien Boishaai by tye werklik sterk teenstand gebied het. HJS was immers beskou as die span om Gim se 150ste verjaardagpartytjie, tydens Interskole, te bederf.

Interskolerekords word elke nou en dan verbeter - maar nooit verpletter nie. Dit maak die suur smaak van die 35-8 loesing nog moeiliker om te sluk.

Alle krediet moet egter aan Gim gaan, aangesien die skool van die noorde steeds onoorwonne is vir die seisoen ná hulle elke Saterdag puik rugby opdis.

Met dié oorwinning het Gim slegs die tweede span in die geskiedenis van die jaarlikse koppestamp geraak om vyf interskoleseges op ’n streep te vermag.

Die enigste ander wenreeks van vyf agtereenvolgende oorwinnings is in die jare vanaf 1964 tot 1968 behaal, ook deur die Gimmies.

Volgens Gim se eerstespan- afrigter, Philip Taylor, het dinge op dié dag eenvoudig net reg gebeur vir sy span.

“Gim het as ’n span uitstekend gekombineer en kalm gebly toe HJS vroeg in die wedstryd drie van ons lynstaanballe gesteel het.”

HJS was vroeg in die wedstryd ook gelukkig toe dit wou voorkom of Gim se losskakel, JH Potgieter, op pad was om ’n nagmerriewedstryd te beleef toe hy misluk het met twee strafskop-pogings na die pale.

Die wedstryd het egter vinnig van koers verander, toe Gim se flank en speler van die wedstryd, Jackquin Rodgers, soos weerlig toegeslaan het om oor die doellyn te duik vir die eerste drie van die wedstryd.

Hierna het Potgieter amper nie weer ’n voet verkeerd gesit nie en was hy een van Gim se grootste angels.

Potgieter het altesaam 20 punte aangeteken wat ’n drie, twee strafdoele en drie doelskoppe, ingesluit het - ’n nuwe interskolerekord.

Hierna het Gim amper al die praatwerk gedoen en altesaam vier drieë ingeryg. Gim se ander twee drieë is gedruk deur die twee vleuels Jaco Pretorius en Ryan Nel.

HJS het egter nooit moed opgegee nie en veral die blou skrum het die Gimmies getoets soos hulle nog nooit vanjaar getoets is nie.

Boishaai het hul teenstanders ook deurgaans hard gelak en is laat in die wedstryd ook beloon met ’n drie deur Johan Wilken.

Behalwe vir die feit dat Gim uitstekend gespeel het, was oorywerige spel die Boishaaiers se ondergang.

Laat in die wedstryd is Boishaai juis gestraf met twee geelkaarte - maar die skrif was teen dié tyd in elk geval teen die muur.

Gim se ondersteunende spel was hul grootste wapen en met ’n lostrio bestaande uit Rodgers, Petrus Theart en Helmut Lehmann, is daar min spanne wat voorlangs met die Gimmies kan saamgesels.

Volgens André Oberholzer van Gim het nét minder as 25 000 toeskouers die wedstryd bygewoon.

“Dit is verreweg die grootste getal toeskouers wat al ooit interskole bygewoon het.

“Ongeveer 1000 toeskouers was, as veiligheidsmaatreël, nie in die stadion toegelaat nie,” sê Oberholzer.

In die geskiedenis van interskole, wat die eerste keer in 1929 gespeel is, was daar nog net vier gevalle waar ’n span twintig punte of meer aangeteken het tydens die eerstespan- wedstryd.

Dit was in 1992 (Gim wen 20-15), 2003 (HJS wen 25-6), 2005 (Gim wen 22-10) en 2006 (Gim wen 23-17).

Tydens vanjaar se interskole het Gim die eerste span geword om meer as dertig punte te behaal.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za