Wynvroue sal skitter by Cultivaria
2008-08-07
VIER vroue betrokke by die plaaslike wynbedryf span saam met die organiseerders van vanjaar se Cultivaria fees om die Cultivaria-beursfonds ’n aansienlike hupstoot te gee. Die vroue maak deel uit van die “Women in Wine” inisiatief en sal deur top- ontwerper Kobus Dippenaar in glansryke aandrokke geklee word. Dippenaar is veral bekend vir sy asemrowende ontwerpe van bruids- en aandrokke en het vier uitrustings ontwerp vir die vier wynpersoonlikhede: Simonsvlei se assistent-wynmaker Helena Neethling, KWV se wynmaker Nomonde Kubheka, Suné van der Merwe - ’n handelskanaalbestuurder vir Distell se uitgebreide wynportefeulje - en Annelie Viljoen, Distell se eerste vroulike druiwe-aankoper, wynbouer en druiwe-aankoper van Zonnebloem. Die individueel-ontwerpte rokke sal tydens die Bovril Langtafel gala-dinee op Donderdag 25 September, deur die vroue wat die skeppings geïnspireer het, gemodeleer word. Dippenaar het inspirasie vir sy ontwerpe in die persoonlikhede van elke vrou gevind en dit perfek gekombineer met die karakter van hul gunsteling wyne. Die rokke asook ’n eksklusiewe kunswerk genaamd “Four Seasons” deur feeskunstenaar Theo Paul Vorster, sal tydens die Bovril Langtafeldinee opgeveil word as deel van ‘n fondsinsamelingsveldtog ten bate van die Cultivaria-beursfonds. Van Suid-Afrika se top kunstenaars soos Chris Chameleon, Mathys Roets, Juanita du Plessis, Kevin Leo and The Voices, Nataniël, Nianell en Rocco de Villiers sal tydens die fees optree. Legendes in die musiekbedryf soos Amanda Strydom en Elzabe Zietsman kom maak ook ’n Kaapse draai. Moet ook nie die eksklusiewe Cultivaria produksie Tydloos III misloop nie. Met kunstenaars soos Rina Hugo, André Schwartz, Jannie Moolman, Arina de Witt saam met Kevin Leo and The Voices sal hulle gehore betower met die temaliedjies uit bekende silwerdoektreffers soos Titanic, Officer and a Gentleman, Dr Zhivago en Ghost. Vir liefhebbers van klassieke musiek bied Cultivaria ook ’n keurspel van top produksies insluitende die bekroonde Klarinet en Klawers met Matthew Reid en Pieter van Zyl, Puccini con Amore, La Serva Pedrona, Verf die Classics rooi met Sibongile Mngoma, Rian Swanepoel en Werner Brooks asook Elna van der Merwe en Zorada Temmingh se Blondes, Tchaikovsky & Queen. Internasionaal-erkende tenoor Kevin Leo en die opera ensemble The Voices beloof om weer gehore aan hulle voete te hê met hulle betowerende stemme. Besprekings kan aanlyn gedoen word by www.cultivaria.com (slegs kredietkaartbetalings) of via die Cultivaria kantoor by 021-872-9754.
More
News
|