Tik-huis vertel 'n hartseer verhaal
2008-08-07
Lise Beyers
’n ERG vervalle huis in Mountain View, Paarl-Oos, is ’n stille getuie van die verwoesting wat deur Tikverslawing gesaai word. Die inwoners van dié gebied is trots op hul buurt en hul netjiese wonings, en so ook was ’n paartjie wat gewoon het in ’n spogwoning in Shirazstraat. Vandag staan die huis egter verlate en verwoes, en dit is nou daarvoor bekend dat Tik- koppe hul mannewales híér kom uithaal. Die paartjie wat tot byna ’n jaar gelede hier gewoon het, was eens ’n gelukkige, vriendelike familie. Op die oog af het dit gelyk asof hulle alles gehad het wat hulle begeer het. Albei het goeie poste beklee by die Munisipaliteit, hulle het ’n pragtige dogtertjie gehad, asook luukse besittings, soos ’n motorboot, motorfiets en ’n swierige vierwielaangedrewe voertuig. Maar, volgens bure het dinge iewers begin skeefloop en die vinger word gewys na die dwelm Tik. Daar word vertel dat die mooi, jong vrou uit die Oos-Kaap vermoedelik eers begin eksperimenteer het met hierdie dwelm. Hierna het haar Duitse elektrisiën man, aan wie die huis behoort het, ook hierby betrokke geraak. Binnekort het dinge lelik begin afdraand loop. Eers is hul dogtertjie uit hul sorg verwyder nadat sy erg mishandel is. Hierna het hulle albei hul werk verloor weens hul verslawing, en toe het die geld opgedroog. Hulle moes noodgedwonge hul meubels verkoop om hul verslawing te voed, en kort voor lank was daar niks. So het hulle uiteindelik hul huis in Shirazstraat verlaat, en tans is bure onseker waar hulle hulself nou bevind. En nou staan die huis verlate en geplunder, vermoedelik ook deur dwelmverslaafdes. Buurvrou Modesty Stuart, vertel dat sedert die paartjie spoorloos verdwyn het, hierdie leë huis ontaard het in ’n dwelmnes. “Die jongmense is daagliks binne die huis besig om Tik te gebruik, en hierna gaan hulle dikwels uit om misdade te pleeg. “Daar is al ingebreek by my huis, en jy kan sien dat hulle toegang tot my erf kry van die vervalle huis langsaan. “My vyftienjarige dogter is ook te bang om alleen ná skool hier te bly, oor die bedrywighede daar.” Die huis is so vinnig deur sy eienaars verlaat, dat hulle selfs van hul besittings agtergelaat het. Dié lê nou verstrooid oor die gebreekte teëls. Selfs familiefoto’s van ’n eens gelukkig gesin is agtergelaat en word nou vertrap deur diegene wat die huis misbruik. Al die baddens, wasbakke, toilette, krane, en natuurlik koperpype, is deur stropers verwyder, asook ingeboude kaste en matte. Vensterrame en veiligheidshekke is ook uitgebreek. Nog ’n buurman sê dat hierdie fraai buurt nou ontsier word deur die vervalle huis. “Hier daag dikwels vreemde mense op wat binne in die ruïnes van die huis onwettige bedrywighede uitvoer. “Ons vrees vir die veiligheid van ons kinders.” ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hulle bewus is van die probleem van hierdie huis, en dat hulle dikwels patrollie hiér ry om verdagte persone te verdryf. Daar is vasgestel dat die huis deur die bank teruggeneem is en dat dit uiteindelik op ’n veiling verkoop sal word. Maar hierdie nuus is nie genoeg om die buurt op te beur nie, want, sê hulle, die woning is nou so verniel, dat die moontlikheid dat daar ’n koper hiervoor sal wees, maar skraal is. * A deserted house in Mountainview, Paarl East, has been plundered by drug addicts.
More
News
|