Diewe stroop skool
2008-08-07
Lise Beyers
SKROOTDIEWE het verlede week ’n skool tot op sy knieë gebring. Toe onderwysers verlede Donderdagoggend 07:00 by Magnolia Primêre Skool aangekom het, het water onder die voordeur van die administratiewe gebou se deur gesypel. Omdat dit dié oggend geweldig gereën het, was hul eerste gedagte dat die dak iewers lek. Maar binne die gebou was dit soos ’n swembad in die gange. Volgens die adjunkhoof, John Leibrandt, het hulle probeer vasstel waar die probleem lê en dit was eers toe hulle binne die siekeboeg kom, dat hulle gesien het dat die plafon stukkend op die vloer lê. “Dit was ’n geweldige gemors. Koperdiewe het deur die asbesdak gebreek en koperpype in die dak afgesny. So het die water soos ’n vloedgolf deur die gebou getrek.” Die diewe het deur die dak getrap en op plekke is die plafon heeltemal uitgeruk. Hierdie skade alleen word op duisende rande bereken. “Hulle was oënskynlik net agter die koperpype aan, want binne in die gebou is talle elektroniese toebehore soos rekenaars, ’n televisie en ook ’n mikrogolfoond. Maar hieraan is daar nie geraak nie. “Nou moet ons ons swaarverdiende skoolfondse gebruik om skade te herstel.” Onderwysers is nou briesend dat hierdie diewe die skool tydelik lamgelê het. “Dit is ons eie mense wat vir ons soveel skade berokken, en dit is ’n skreiende skande dat hulle ’n skool teiken, wat juis daar is om die jeug op te voed.” ’n Woordvoerder van die Paarl-Oos polisie het gesê dat koperdiewe in dié gebied wemel. “Die nuutste tendens is dat informele skroothandelaars in plekke soos Amstelhof, Lantana-, Magnolia- en Loeriewoonstelle metaal versamel, en dan neem hulle dit Kaapstad toe, waar hulle meer betaal word as by plaaslike skroothandelaars. “Ons is besig met verskeie operasies wat gemik is op hierdie onwettige handelaars.” * In Klapmuts is daar onlangs op verskeie onwettige skroothandelaars hok geslaan. Gesteelde metaal is in hul besit gevind, en van hulle het met onpadwaardige of ongelisensieerde voertuie gery. ’n Woordvoerder van die polisie hiér, het gesê dat alle skroothandelaars, wettig of onwettig, sterk aangespreek gaan word oor die onwettige handel in skroot en die polisie gaan vir hulle in die toekoms met valkoë dophou. * Copper thieves have caused havoc at a Paarl East school, during a theft of copper water pipes.
More
News
|