Wellington klop vrugteboere
2008-08-14
DIE eerste rugbyspan van Wellington het Vrydagaand, in snerpende koue, daarin geslaag om die span van Ceres in ’n Boland Premierliga-wedstryd te klop. Wellington het die tuisspan met 15-9 geklop. Die wedstryd, wat gekenmerk was deur klipharde voorspelerspel, sal nie lank onthou word nie, aangesien baie bewegings skipbreuk gely het as gevolg van swak hantering en ongedwonge foute. Negatiewe en onkantspel deur Ceres het verhoed dat Wellington se agterlyn, met die sewes-Springbok Renfred Dazel op losskakel, aan die gang kon kom. ’n Skepdoel vroeg in die wedstryd deur Ceres, gevolg deur nóg twee strafdoele, het sake bemoeilik vir Wellington. Die besoekers het egter stadig beheer oor die wedstryd begin kry en veral Julian Joubert het baie balbesit omgekeer. Na een van min agterlynbewegings het die Wellington se linkervleuel Jean Augustyn ’n onverdoelde drie gaan druk. Kort voor rustyd het Roberto Watson ook gaan druk. Dié keer het Wellington se Nicus Bergh geslaag met die doelskop om die rustydtelling 12-9 te maak. Na rustyd het die wedstryd nie aan die verwagtinge voldoen nie, met beide spanne wat baie foute gemaak het. Die skeidsregter verdien egter ’n pluimpie vir die manier waarop hy dissipline gehandhaaf het. Wellington het in dié helfte baie gebiedsvoordeel geniet en ’n strafdoel deur Bergh het die eindtelling 15-9 gemaak. Wellington se uitblinkers was die binnesenter Hentas Kotze, Bergh en Joubert. Wellington se tweede span het 35-17 gewen en die tweede span het 28-20 gewen. Wellington en Roses se derbywedstryd is uitgestel tot ’n latere datum. Die klub se volgende wedstryd vind plaas op 23 Augustus. * Wellington vier Vrydag sy 110de bestaansjaar met ’n spogdinee op die plaas Welbedacht.
More
News
|