Kavaliers wéér Valke se baas
2008-08-14
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers het Vrydagmiddag met ’n uitstekende terugvegpoging vorendag gekom in die tweede helfte van hul kragmeting met die Valke om naelskraap met 31-29 koning te kraai op Boland-stadion. Met dié oorwinning oor die rooitruie van die Oos-Rand het die Kavaliers een posisie geklim op die Curriebeker punteleer en deel hulle nou die sesde posisie met die Valke. Beide spanne het tans 13 punte. Ná die Wellingtonners teen halftyd nog met 7-19 agter was, het die rustydpraatjie net die ding gedoen om ’n tweede oorwinning dié seisoen oor die Valke te verseker. Volgens die afrigter van die Kavaliers, Deon Davids, het sy span nie veel van hul patroon afgewyk nie en was dit bloot ’n uitstaande spanpoging wat op die ou einde die wa deur die drif getrek het. “Die manne het halftyd na mekaar gekyk en gesê dat die poging in die eerste hefte nie goed genoeg was nie. Ons was vasbeslote dat ons dié een moes wen as ons nog ons doelwitte vir die seisoen wil bereik en die ouens het eenvoudig die boodskap verstaan.” Met Dries van Schalkwyk wat weereens dodelik was met die bal in die hand, en Danwell Demas wat met sy vaart verantwoordelik was vir twee van sy span se vyf drieë, was dit so hittete, of die Kavaliers het dié wedstryd in die doodsnikke deur hul vingers laat glip. Boland het reg aan die einde van die wedstryd ’n strafskop afgestaan wat binne trefafstand was van die Valke se Poerie van Rooyen. Gelukkig vir die ruiters in swart het Van Rooyen se skop skeef getrek en kon die Kavaliers die veld as oorwinnaars verlaat. “Manne soos Neil Papier, Elgar Watts en Danwell Demas was deurslaggewend in die oorwinning, met Van Schalkwyk wat weekliks uitstekende spel lewer,” sê Davids. Met die loslootjie wat die Kavaliers dié naweek geniet, voel Davids dat sy span die naweek ’n welverdiende ruskans kan geniet, voordat hulle begin voorberei vir hul ontmoeting met die Sharks op 29 Augustus op Boland-stadion. “Dit is belangrik om op die vertoning voort te bou wanneer ons oor twee weke teen die Sharks te staan kom, indien ons steeds ons doelwitte vir die seisoen wil bereik,” sê Davids. “Die ouens het egter goed gespeel toe ons die Haaie vroeër die seisoen in Durban ontmoet het.”
More
News
|