Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Naelskraapse oorwinning

Naelskraapse oorwinning
 
2008-08-14

Jaco van Wyk

’N DRIE in die doodsnikke vir Klein Nederburg, gevolg deur ’n mislukte strafskop-poging deur New Orleans om die wedstryd te beklink, was Saterdag die deurslaggewende oomblik tussen die twee spanne tydens die wipplankstryd wat op Faurestraat-stadion plaasgevind het.

Soos vooraf bepaal is, het beide spanne opwindende, hardlooprugby opgedis.

Dit was egter die stewige platvorm wat deur KN se voorhoede geskep is wat aan hulle ’n naelskraapse oorwinning van 24-23 laat behaal het.

Met Klein Nederburg wat die wedstryd meestal oorheers het in die eerste helfte, met harde dryfspel en goeie bewegings agterlangs, het hulle eerste bloed geruik na aanhoudende druk op New Orleans toegepas is.

New Orleans het die druk egter goed hanteer en KN kon slegs ’n rustydvoorsprong van 12-6 geniet.

In die tweede helfte het New Orleans met ’n veel sterker aanslag vorendag gekom en vir KN meestal met slim agterlynspel uitoorlê.

Klein Nederburg het op ’n tyd fokus verloor en moes verwoed verdedig om in die wedstryd te bly.

Met Klein Nederburg wat op ’n tyd met slegs veertien manne moes klaarkom, het New Orleans, met Clayton Blommetjies aan die spits, die voortou geneem met 23-17.

Klein Nederburg het hierna wakkergeskrik en die een aanval na die ander begin loods om weer terug in die wedstryd te kom.

New Orleans se verdediging het lank sy man gestaan voor Klein Nederburg uiteindelik gaan druk het om die telling 24-23 te maak.

Met skaars ’n minuut se speeltyd oor het KN se ondersteuners byna te vroeg begin seëvier.

Klein Nederburg het vir oulaas sterk aangeval voordat hulle ’n strafskop afgestaan het om die uitslag van die wedstryd wéér in die hande van New Orleans te plaas.

Gelukkig vir die voorlopers was die doelskoppoging van koers af en kon Klein Nederburg vir die tweede jaar in ’n ry die soet smaak van ’n derby- oorwinning proe.

Klein Nederburg se groot uitblinkers op die dag was Morné Williams met drie drieë, Elvin Framer en Yagyaa Crook.

Klein Nederburg se ander driedrukker was Randall Geldenhuys. Geldenhuys het twee van sy span se drieë verdoel. Vir New Orleans het Denvor Jacobs, Bjorn Kidd en Dabriam von Willingh agter die doellyn gaan kuier, met Blommetjies wat een drie verdoel het en Ryan Jordaan wat twee strafdoele behaal het.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za