Vuurwarm fees in Paarl
2008-08-14
VERRUIL die winterbloutes vir ’n purperwarm wyn-en-koservaring by die Persië tot Paarl Fees, Saterdag van 11:00 tot laat by die Nederburg wynlandgoed. Hierdie fees met sy ryk Persiese atmosfeer ontleen sy tema van die legende wat te vertel het dat die Shiraz-druif (ook bekend as Syrah) sy oorsprong in antieke Iran gehad het sowat 7 000 jaar gelede. ’n Persiese parade deur die lede van Paarl Wijnbouers, buikdanseresse en puik musiek voltooi die prentjie. Getroue rugbyondersteuners hoef ook nie weg te bly nie, maar sal die Springbokke op die groot skerm kan sien uitdraf. “Ons vier jaarliks die Shiraz-kultivar se spesiale verhouding met die terroir van die Paarl, ’n eenheid wat wêreldklaswyne te voorskyn bring,” sê Sandra Lotz van Paarl Wijnbouers Daar sal kosdemonstrasies wees, asook interessante stalletjies met juweliersware, Oosterse tekstiele, glasware en silwerware. Kaartjies is vooraf teen ’n afslagprys van R55 by alle deelnemende wynkelders of die Paarl Toerismekantoor beskikbaar, of teen R65 by die hekke. Kinders jonger as 18 jaar verkry gratis toegang, maar vermaak in Aladdin se Hoek kos R20 en ’n betroubare kinderoppasdiens is beskikbaar teen R25 per uur. Skakel 021-863- 4886 vir navrae.
More
News
|