Met eish ja
2008-08-14
OP Saterdag 23 Augustus word groot fees gevier in Mbekweni - in Afrikaans, isiXhosa, Engels én Sesotho! Die multikulturele, veeltalige program met voorlesings, sang, dans en tradisionele kos, wag op besoekers aan Chippa’s Place, ’n restaurant wat saamspan met die Taalmuseum en Paarl Toerisme vir die “Met eish, ja” fees. Die fees is deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Taalmaandvieringe. Belangstellendes kan by die fees inloer tussen 11:00 en 17:00. ’n Hoogtepunt is ’n optrede deur die bekende à capella groep die Mbekweni Black Bafanas wie se styl as “Isicathamiya” (op die tone) beskryf word. Vir Mafikizolo, is daar die tradisionele isiXhosa sang en dansgroep Imbizo, met ’n orkes. Daar is ’n vertoning van die Wellingtonse Disa klopsegroep. Nog ’n lekkerte is ’n vertelling of twee deur die avonturier en skrywer Johan Bakkes. Die Sesotho digter Syrill Lehana van die “Never give up” dramavereniging sal van sy veeltalige gedigte uitvoer en die Afrikaanse woordkunstenaar Petro Rhode en die isiXhosa digter Khanya Mpuhlu van Mbekweni sal eie gedigte asook vertalings van mekaar se gedigte, voordra. Die isiXhosa groep Phakamani sal ’n koorvertoning lewer, asook ’n uittreksel uit Sarafina. Ander deelnemers is die Sesotho sang- en dansgroep Oa tuka mollo, die Mbekweni Marimbas, die Mbekweni Gumboot Dancers en gospelgroep Intsikelelo. Vervoer in ’n spesiale feesbus (R20), is beskikbaar vir besoekers wat hul motors by die Taalmuseum in die Paarl wil laat. Kaartjies vir die fees (R30), is beskikbaar by Paarl Toerisme by 021-872-4842 en 076-453- 5971, Chippa’s Place by 082-454-0585 of die Afrikaanse Taalmuseum by 021-872-3441.
More
News
|