Moeder sterf op slag
2005-07-14
MET die slag van die bakkie teen haar lyf verlede Donderdag het Maria Booysen uit haar skoene en haar trui deur die lug getrek, en leweloos op die gruis langs die Ou Paarlpad bly lê.
Haar dogter Ivy, wat uit haar ouerhuis op die plaas Sanddrift die tragedie gade geslaan het, het gillend nader gehardloop en oor haar moeder geval.
Die bakkie, wat met werkers uit die rigting van die Paarl na Klapmuts onderweg was en toe skielik uit die ryvlak geswenk het, het buite beheer 30m verder onder die ankerdraad van ’n kragpaal tot stilstand · gekom.
Gert Martin van Klapmuts, een van die werkers wat onder die kap gesit het, het met ernstige gesigbeserings afgeval en verward in die lang gras bly kniel.
Porche Didiza, wat enkele treë voor die oorledene was, het geskok bly staan. Die vrou saam met wie sy huis toe gestap het, was die een oomblik nog agter haar, en die volgende oomblik het sy dood gelê.
Porche het die klere wat op die gruis agtergebly het, opgetel en verslae daarmee bly staan. Maria se kaalgerukte bolyf is met die blou werksbaadjie van een van die geskokte omstanders toegegooi.
Die groeiende skare mense moes plek maak vir ambulanspersoneel wat met loeiende sirenes opgedaag het. Daar was niks wat hulle vir Maria kon doen nie. Gert is agter in die ambulans gekalmeer en verbind.
Die polisie was vinnig op die toneel en het verklarings begin neem. ’n Aanklag van strafbare manslag word ondersoek.
Daar was ’n meganiese fout met die Bantam bakkie, het die bestuurder, Roger Prins van Klapmuts, aan die polisie gesê.
Hy het juis daardie oggend in die Paarl na onderdele gesoek. Die dele was nie beskikbaar nie, en hy het die middag die voertuig gebruik om werkers by Klapmuts te gaan aflaai.
En toe stap Maria Booysen op daardie oomblik langs dieselfde pad huis toe.
Die begrafnisreëings is getref vir Saterdag om 09:00 by die ‘‘blou" huis op Sanddriftplaas en 10:00 by die Nuwe Apostoliese Kerk.
* A mother was killed instantly when a bakkie struck her by the roadside.
More
News
|