Harde wedstryd eindig gelykop
2008-08-21
DIE jaarlikse o.19A rugbywedstryd tussen Noorder-Paarl en Paulus Joubert het Saterdag op Faurestraat-stadion met 10-10 geëindig. Die wedstryd, wat maar die tweede gelykop uitslag in 43 jaar was, is gekenmerk aan goeie verdediging aan beide kante. Terwyl Noorder-Paarl met veggees en goeie agterlynspel vorendag gekom het, het Paulus se vaste vyf beïndruk. Paulus het eerste lont geruik toe Eugene Andries (flank) met ’n strafdoel geslaag het. Kort hierna het Noorder-Paarl se agterlyn gefouteer en Paulus se plaasvervanger senter Wendell Duimpies het die losbal bemeester en oorgeduik vir die eerste drie van die wedstryd. Riaan Solomon (losskakel) het dié drie verdoel. Noorder-Paarl het geweier om te gaan lê en ná ’n lynstaan naby Paulus se doellyn het die stut Lindiwe Buzwe ’n skop afgestorm en sy span se eerste drie gaan druk. Die rustydtelling was 10-5 in Paulus se guns. Ná rustyd het Noorder-Paarl met slim agterlynspel gebiedsvoordeel geniet en Paulus se balbesit telkemale omgekeer. Noorder-Paarl se tweede drie, deur Christiaan Pietersen (regtervleuel), het juis gekom na hulle op onverklaarbare wyse ’n skrum van Paulus gewen het. Die doelskop was egter mis. Teen die einde van die wedstryd het Paulus verwoed teruggeveg, maar kon nie met ’n beslissende strafskop na die pale slaag nie. In ander wedstryde het Paulus se o.14A’s (31-0) en o.15A’s (27-3) beide geseëvier. Noorder-Paarl se o. 16A’s (14-0) en o.19B’s (8-3) het hul wedstryde gewen.
More
News
|