Goeie melktert vir dié kommissie
2008-08-21
DIÉ naweek sal Mathys Roets en Die Melktert Kommissie gaste vermaak by die Ou Meul-teater. * Die bekende Mathys Roets, met sy donker meesleurende stem, tree môre om 20:00 op. Hy het homself oor die afgelope sewe jaar as ’n ernstige Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar gevestig. Hy is veral bekend vir sy besonderse vertolking van musiek van Koos du Plessis, Lucas Maree, Leonard Cohen, Neil Diamond en Rodger Whittaker. Kaartjies is R80. * Die Melktert Kommissie (DMK) tree Saterdag om 20:00 op. Vergewe en Vergeet is DMK se derde album binne net vyf jaar. Dit bevat tien nuwe, oorspronklike snitte wat varieer van akoestiese rock tot blues en ballades. Die gevoel van die album is eie aan DMK, maar tog ’n bietjie meer volwasse. Die lirieke gaan oor die liefde, geweld, die lewe en al daai goed waaroor net musikante kan skryf. Die groep het saamgesmelt met al die gebeure in hulle lewens in die laaste tyd soos die inbrake, die verlowing, die roem oor die jare en dan natuurlik ook die alledaagse dinge soos brood en melk koop. Kaartjies is R70. Vir besprekings, skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.
More
News
|