Top kunstenaars by Cultivaria
2008-08-21
BESOEKERS aan vanjaar se Cultivaria fees vanaf 25 tot 28 September kry die geleentheid om van ons land se top kuns- tenaars in aksie te sien by die onderskeie lokale regoor die dorp. ’n Propvol feeskalender sorg vir vermaak van die hoogste gehalte en diversiteit. Die immergewilde Chris Chameleon is vanjaar terug met sy vertoning Driekuns, wat veelsydige verwerkings van sy gewildste treffers en persoonlike gunstelinge insluit. Met slegs twee vertonings in die FNB Ouditorium sal aanhangers moet spring om kaartjies te bespreek. Suid-Afrika se Platinum Prinses, Juanita du Plessis, se gewildheid neem steeds toe en sy is vir slegs een vertoning by Cultivaria met haar produksie Juanita du Plessis aangebied deur Vrouekeur. Mathys Roets is reeds ’n bekende vir Cultivaria-feesgangers en sy weergawe van Cat Stevens se heel gewildste treffers sal aanhangers bekoor. In The Very Best of Cat Stevens doen Roets sy onoortreflike interpretasie van tydlose liedjies soos Morning has broken en Moon shadow. Sanger, komponis en skrywer Nataniël is vir die eerste keer by Cultivaria te sien met twee vertonings in die FNB Ouditorium. Bekende pianis Rocco de Villiers maak ook sy debuut tydens Cultivaria met sy skitterende One Piano – One Rocco wat ’n viering is van sy tien jaar loopbaan as solo-pianis. Sy vertoning is ’n terugblik na die musikale herinneringe van sy jeug. Sangsensasie Nianell sal gehore opnuut inspireer met haar uitsonderlike musikale talent en is in twee vertonings in die KWV Stadsaal te sien. Kaartjies vir hierdie kunstenaars se vertonings verkoop gewoonlik soos soetkoek en hulle aanhangers sal moet gou spring om te bespreek. Kaartjies kan reeds aanlyn bespreek word by www.cultivaria.com. Slegs kredietkaartbetalings word aanvaar. Vir besprekings en navrae, skakel 021872-9754.
More
News
|