Taalmuseum praat kultuur
2008-08-21
DIE kurator van die Afrikaanse Taalmuseum, Catherine Snel, gesels op Donderdag 28 Augustus om 19:00 by die Taalmuseum in die Paarl oor dié museum se Namakwaland Mondelinge Oorleweringprojek. Sedert 2007 het die Taalmuseum se navorsingspan 40 dorpe besoek en meer as 160 onderhoude gevoer om die geestelike kultuur van die Kamiesbergstreek in Namakwaland op te teken. Die dorpe wat besoek is, is Lepelsfontein, Klipfontein, Spoegrivier, Soebatsfontein en Hondeklipbaai. Tydens hulle besoek aan Garies het die span die nimlike tant Grietjie ontmoet wat altyd amuseer met haar pittige sêgoed en spitsvondige raaisels en self ’n paar danspassies op die maat van “Dis ’n lekker ou Jan” uitgevoer het. Die Taalmuseum poog om deur hierdie projek ’n bydrae te lewer tot die bewaring en uitbouing van die verskillende variëteite van Afrikaans. Deur die navorsing word die plaaslike inwoners ook bewus gemaak van hul kulturele erfenis en word hulle sodoende aangemoedig om trots te wees op hul eie kultuur. “As ’n instelling wat daarop gerig is om Afrikaans en sy variëteite te bewaar, sal die optekening van hierdie meer onlangse inligting van onskatbare waarde wees om in vergelykende studies te gebruik. “Terselfdertyd sal dit ’n oudiovisuele impak op die besoeker kan hê deur middel van die Taalmuseum se moderne uitstaltegnieke. Verder kan die opvoedkundige betekenis daarvan, op veral skoolgroepe, nie oorbeklemtoon word nie,” volgens Snel. Sy is van mening dat die Taalmuseum kan dien as ’n platform vir die versameling en dokumentering van Namakwa-Afrikaans sodat dit vir navorsing toeganklik gestel kan word. Hierdie navorsingsdata kan deur middel van uitstallings, publikasies en ander projekte bekend gestel word. Bywoning van die lesing is gratis en verversings sal bedien word. Belangstellendes moet voor Woensdag 27 Augustus bespreek deur 021-872-3441 te skakel.
More
News
|