Vriende saam dood in skietdrama
2005-07-14
’n AAND se kuier met vriende het Saterdag in 'n dubbele tragedie geëindig toe 'n skoot 'n meisie gedood, en haar vriend daarna die pistool teen sy eie kop gedruk en die sneller getrek het.
Jenine Sass van Davidslaan, Vanwyksvlei, sou Maandag haar 20ste verjaardag gevier het, maar in plaas van 'n partytjie, beplan haar ouers die begrafnis.
In die ouerhuis van Peppino Adams (24) van Scholtzlaan, Vanwyksvlei, is sy gesin stomgeslaan deur sy dood.
‘‘As ons seun per ongeluk die meisie geskiet het, sou hy dit nooit kon verwerk nie. Maar hoekom hy, ons pragtige kind?’’, het sy vader hartseer gesê.
Peppino en Jenine het die aand saam met 'n vriend, 'n parapleeg Mola Snyers (36) van Klein Tevredeplaas, Daljosafat, by die ouerhuis van Elizmah Jacobs (19) in Davidslaan gekuier.
Mola se pistool het na bewering op 'n tafeltjie voor sy rolstoel gelê.
Dit blyk dat die vuurwapen gespan en die magasyn daarna uitgehaal is. Niemand het besef dat daar 'n patroon in die loop was nie.
Dit was 21:00 toe Jenine opgestaan het om die musiek sagter te draai. 'n Skoot het haar in die kop getref. Sy het op pad na die Paarl Hospitaal gesterf.
Elizmah het uit die huis gevlug toe sy haar skoolmaat sien inmekaarsak.
Die vermoede bestaan dat Peppino in afgryse die pistool geneem, die magasyn weer ingedruk, en daarmee na Elizmah se slaapkamer verdwyn het.
Mola was in sy rolstoel en daar was niemand wat Peppino kon keer nie.
Sekondes later het nog 'n skoot geklap en het Peppino gesterf.
Peppino word gedenk met 'n tuisdiens om 12:00 Sondag in die Adams-woning te Scholtzstraat 20 en met 'n erediens om 13:00 in die VGK in Vanwyksvlei.
Hy het as messelaar saam met sy vader, 'n boukontrakteur, gewerk.
"Peppino was net goed," het sy ouers David en Ciska, gesê.
"Ons is so 'n hegte gesin Z vier kinders en vier aangenome kinders wat soos ons eie is. Hy wou net altyd he„ almal moet lief wees vir mekaar. Hy het so 'n wye vriendekring gehad, en vandag sit almal verslae in ons huis."
Die gedenkdiens vir Jenine word Saterdag om 10:00 in haar ouerhuis te Davidslaan 30 gehou, met die erediens om 11:00 in die Church of God in Christ in Mossiestraat, Weltevrede.
Sy word oorleef deur haar ouers Albertus en Gertruida, 'n suster en twee broers.
"Jenine het 'n mooi lewe gehad," het haar hartseer moeder onthou.
"Sy was 'n goeie kind, altyd so lewenslustig."
Op skool het sy op die netbalveld uitgeblink, het die netbalafrigter van Hoërskool Weltevrede gesê.
Jenine en Elizmah het na matriek 'n kursus voltooi en verlede week as kassieres in Wellington begin werk.
Maandag is in Elizmah se woning die bloedkolle van die matte afgewas en is die meubels in die sitZ en slaapkamer rondgeskuif.
"Elizmah is so getraumatiseer dat sy onder medikasie is," het haar moeder Rose gesê.
"Ek verander nou die kamers om dit vir haar makliker te maak."
'n Aanklag van nalatigheid onder die vuurwapenwet word ondersoek teen Mola, die eienaar van die 9mm pistool.
Nou werksaam in die beheerkantoor by AC Rottweiler Sekuriteit, is Mola aan ’n rolstoel gekluister na 'n rooftog agt jaar gelede waar op sekuriteitsbeamptes geskiet is.
* A young man shot himself after accidentally shooting his friend in the head in Wellington.
****** Einde van al 8 blokke · ¶ ¶ ¶ ¶ ¶ ¶
More
News
|