Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boetes hoop op vir onskuldige

Boetes hoop op vir onskuldige
 
2008-08-21

Lise Beyers

’n MAN van Wellington is op die oorlogspad, nadat hy binne ’n maand meer as R3000 se spoedboetes ontvang het.

Die nagmerrie het vir Jacques Basson in Julie begin toe hy ’n dagvaarding ontvang het vir ’n spoedboete wat hy in Kaapstad sou gekry het. Hiervolgens het hy die spoedgrens in die omgewing van Nuweland oortree.

Maar Basson was byna ’n jaar laas in Kaapstad. Die volgende week ontvang hy nog een, en so het die kaartjies begin instroom.

“Ek besit ’n Isuzu bakkie met die registrasienommer CN 2161. Op die boetes wat ek ontvang, is hierdie nommer dieselfde, behalwe die een voertuig is ’n nuwe wit Toyota Hi-Lux bakkie, en die ander ’n wit Toyota Fortuner.

“Party van die boetes het foto’s by, en daar is geen manier dat dit my voertuig of ek agter die stuur is nie.”

So het altesame elf boetes reeds by Basson beland, en hy verwag dat die hoop nog groter sal word.

Nadat hy byna raadop was van by talle toe deure aanklop, het hy besluit om sy eie speurwerk te doen om vas te stel wie die skuldige is wat sy nommerplaat so ydelik gebruik.

“Die verkeersafdeling was van geen hulp nie, en hulle was nie bereid om vir my te help om die saak te ondersoek nie.

“Omdat ek self in die motorbedryf is, het ek van my kontakte gebruik gemaak om uit te vind of daar ’n eienaar in die Drakenstein-gebied is wat voertuie besit soos dié op die boetes.

“Dit was sommer vinnig toe ek ’n oproep ontvang van ’n motorhawe wat my vermoedens bevestig het. Volgens hulle papierwerk het ’n man van Wellington ’n Toyota bakkie, asook ’n Fortuner, en boonop gebruik hy die registrasienommer CN 2161.

“En na verdere ondersoek, is daar vasgestel dat ene LMJ Stock, ook van Wellington, wel hierdie voertuie besit, maar inderwaarheid is sy registrasienommers onderskeidelik CN 21615 en CN 21616.

“Op die foto’s wat geneem is deur spoedkameras, kan daar duidelik gesien word dat die nommerplaat CN 2161 is.

“Die persoon wat my nommer gebruik, weet hy ry te vinnig, maar is oënskynlik nie hieroor gepla nie, want hy weet die boetes sal nie by hom aankom nie.

Die saak is by die voertuigondersoek-tak van die polisie aangemeld. Stock was die afgelope tyd uitstedig en hy sal met sy terugkoms ondervra word, volgens die ondersoekbeamp­te.

Rolspelers in die motorbedryf sê dat hierdie geval niks vreemds is nie.

“Nommerplate kan deur enige Jan Rap en sy maat gedruk word en daar is geen regulering in verband hiermee nie.

“In talle ander lande is ’n voertuig se nommerplaat ook sy lisensie en dit mag dan slegs deur die owerhede gedruk word. Daar word baie streng op die misbruik hiervan opgetree.”

’n Woordvoerder van die verkeersowerhede, Cavin Cornelissen, het gesê dat indien Basson genoegsame bewyse het om sy onskuld in hierdie saak te bewys, sal die boetes van sy naam geskrap word.

“Dit sal oorgedra word na die werklike oortreder en die persoon sal wél voor die volle mag van die gereg te staan kom.”

* A Wellington man has received speeding fines of almost R3000, thanks to a fraudulent registration plate.


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za