Vier spanne veg om streektitel
2008-08-21
DIE ligaverpligtinge van die Paarlstreek begin Saterdag in alle erns met vier spanne wat nog die titel kan verower. Op Gardenspark pak die ligavoorlopers, Riverstones, vir Young Gardens in ’n kritieke wedstryd wat die tuiste van die ligabeker kan bepaal. Riverstones sal graag hul eerste ronde nederlaag wil wreek en daarmee hul aspirasies lewendig hou om in hul feesjaar die heel eerste wenners van die Paarlstreek- liga te word. ’n Oorwinning deur Young Gardens sal hulle laat opskuif na die tweede plek, afhangende van wat gebeur tussen Windmeul United (tans tweede) en Young Standards (vyf punte agter Riverstones). ’n Oorwinning vir Young Standards sal die voorlopers se kaarte lelik deurmekaar krap. Dié kragmeting vind plaas op die Daljosafat-stadion. Gardens se tweede span is tans met een punt voor Young Standards II, en geen span kan dit bekostig om te verloor nie. ’n Oorwinning vir Young Standards se derde span kan aan hulle die titel verseker. Die volledige program is: Young Gardens vs Riverstones op Gardens Park; Young Standards vs Windmeul United op Daljosafat-stadion; Vineyards vs Allandale op Daljosafat; Violets vs Laer Paarl op Daljosafat. Junior wedstryde begin om 10:00 en die hoofwedstryde van senior klubs begin om 16:00. Vineyards en Allandale se junior spanne sal op Faurestraat-stadion kragte meet terwyl die o.16 spanne van Vineyards en Windmeul United in die uitklop-finaal speel op Faurestraat-stadion. Paarlstreek se uitklopfinale vind plaas op 13 September te Daljosafat-sport- gronde. Die Paarl Juniorstreek bied op Dinsdag 23 September ’n sewe-aan-’n-kant toernooi aan vir senior spanne terwyl die junior sewe- aan-’n-kant toernooi op Woensdag 24 September aangebied word. Die fondse wat tydens dié toernooie ingesamel word, sal gebruik word vir bevordering van junior rugby in die Paarlstreek.
More
News
|