Goliath sit skop in vegkuns
2008-08-21
Jaco van Wyk
’N AIKIDO-INSTRUKTEUR van die Paarl, Elroy Goliath, het onlangs ’n unieke prestasie behaal toe hy die eerste Suid-Afrikaner geword het om sy 3de Dan gradering in Aikido in die buiteland af te lê. Wat dié gradering so besonders maak, is die feit dat Aikido-studente nie aldag die geleentheid kry om hul gradering te doen onder een van die mees gerespekteerde instrukteurs in die wêreld, Shihan Yoji Fujimoto, nie - en dit in die Europese dorpie Laces, in die Alpe. Fujimoto is ’n 7de Dan Aikido instrukteur van Japan en ’n direkte student van die stigter van Aikido. “Dit was een van die grootste uitdagings van my lewe,” sê Goliath, wat in 1994 reeds met dié Japanese krygskuns begin het. “Alhoewel Aikido minder bekend is as jou meer tradisionele gevegstyle soos Karate en Judo, is dit een van die mees praktiese selfverdedigingstyle wat vandag beskikbaar is.” Volgens Goliath is Aikido waarskynlik aan die Westerse wêreld bekend gestel deur die akteur Steven Seagal, wat self ’n 7de Dan in Aikido het. “Aikido is uniek in die sin dat dit klem lê op die nie-aggressiewe hantering van ’n konflik- of aanvalsituasie - dus bewegings saam met aanvalle, in teenstand met teenaanvalle. “Die fokus is dus op die kenmerkende draaibewegings wat die aanvaller se aanvalsmomentum gebruik om hom mee te immobiliseer,” sê Goliath. “Aikido is uiters gesofistikeerd op senior vlak en kan aangewend word in situasies waar ’n aanvaller groter, sterker of selfs gewapend is. “In der waarheid, hoe sterker die weerstand en krag hoe makliker en meer effektief die tegniek.” Goliath het op skool na ’n praktiese verdedigingstyl gesoek, maar die bewegings van ander dissiplines soos karate het eenvoudig nie ’n natuurlike aanklank by hom gevind nie. “Op ’n versoek van ’n vriend het ek in 1993 na ’n demonstrasie van ’n besoekende Aikido-in- strukteur gaan kyk. Van daardie dag af het ek geweet dat ek Aikido wou doen.” Goliath het vir Fujimoto die eerste keer ontmoet toe hy Suid-Afrika besoek het in 1999. “Sedertdien het Fujimoto Suid-Afrika ’n paar keer besoek en my in 2005 genooi om ’n eksklusiewe tiendag-oefenkamp met sy senior studente by te woon wat jaarliks plaasvind.” Sedertdien het Goliath drie sulke oefenkampe bygewoon en selfs Italiaans aangeleer aangesien Fujimoto se klasse slegs in Japannees en Italiaans aangebied word. “Tydens die oefenkamp het ek ongelooflik baie ervaring opgedoen en ’n meer in-diepte begrip van tradisionele Aikido gekry. “Om ’n 3de Dan van Fujimoto te ontvang is ’n groot eer en baie betekenisvol. Dit is die resultaat van jare-lange harde oefening.” Aikido is deel van Goliath se lewe en volgens hom sal hy dit nog lank aanhou beoefen. “Die graderingsvlak toekomstig is vir my minder belangrik as om voortdurend hard te werk om Aikido beter te verstaan en om my vermoëns te ontwikkel. “Wanneer ek gereed is, sal dit Fujimoto se besluit wees,” sê Goliath. “Die belangrikste vir my is om my ervaring en kennis aan my studente oor te dra.” Kontak Elroy Goliath by 083-463-4187 of stuur ’n e-pos na paarlaikido@gmail.com. Die Paarlklub word binnekort uitgebrei na Wellington (Hoërskool Bergrivier) weens navraag.
More
News
|