Beveg diabetes
2008-08-21
IS jy gedurig dors, gedurig honger, moeg en lusteloos, duiselig, en sweet in die nag? Het jou sig verswak? Dan kan jy moontlik verhoogde bloedsuiker (diabetes) hê. So sê suster Kamarétha Beckert van die Diabetessentrum in die Paarl, wat onlangs ’n toekenning van die Nasionale Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie (CDE) ontvang het as beste diabetesvoorligter in SA vir 2008. Haar prys sluit ’n geleentheid in vir verdere opleiding in Wenen, Oostenryk, tydens September. Beckert bestuur die Diabetessentrum in die Paarl saam met dr Nickie Bernard, waar mense voorligting kry oor diabetes. Sy waarsku dat ’n swak lewenstyl, veral oorgewig en te min oefening, aanleiding gee tot tipe twee diabetes. Diabetes is ’n metaboliese toestand wat wêreldwyd toeneem. Indien diabetes beheer word, kan komplikasies soos blindheid, hartprobleme, nierprobleme, seksuele probleme en bloedvatsiektes vermy word. Beckert het ’n plaaslike steungroep vir diabete gestig en daar word ook jaarliks ’n kamp vir kinders met diabetes aangebied. Indien ’n mens vermoed jy het diabetes, kan ’n bloedtoets daarvoor gedoen word by die Boland Diabetessentrum. Skakel suster Beckert by 021-871-1808 of stuur ’n e-pos aan diabetes@telkomsa.net.
More
News
|