Landsburgers maak dorp hul tuiste
2008-08-28
Malané Bosman
VAN die grootste manne in Suid-Afrika se eiendomsontwikkelingsbedryf het Wellington hul tuiste gemaak, en hulle is trots daarop. Die King familie, met oudste broer Adrian en jonger broers Paul en Stephen, het diep in die hart van die historiese kern van die dorp hul kantoorgebou in voormalige wonings ingerig. Daarvandaan bedryf hulle ’n nasionale sakeonderneming met ’n begroting van R2 biljoen. Maar ’n mens sal dit nooit sê as jy daar verby ry of die Kings in die dorp raakloop nie. Hulle hang nie hul sukses, of die feit dat talle plaaslike minderbevoorregte instansies finansieel deur hulle ondersteun word, aan die groot klok nie. King Financial Holdings is 12 jaar gelede in Wellington gevestig deur Adrian King. Adrian is in Kaapstad gebore en was in sy leeftyd in sewe laerskole, van die Kaap tot in Nelspruit, as gevolg van sy pa, Paul, wat oral deur die land moes trek as makelaar by Old Mutual. Toe Adrian in graad nege was, het sy pa afgetree en ’n skoenwinkel in Vredenburg geopen. Dis ’n interessante gekuier om ’n lang tafel in die Kings se kantore met die huislike atmosfeer. Adrian praat Engels, want hy het sy skoolloopbaan aan Pretoria Boys’ High voltooi, terwyl Paul en Stephen Afrikaans grootgeword het by Gimnasium in die Paarl. Adrian self was vandat hy 26 jaar oud was, in die versekeringsbedryf. Hy het in Kaapstad gewerk toe hy en sy vrou, Louise, hul eersteling gehad het. “Toe het ons besluit, ons kinders sal net op een skool wees.” Adrian en Louise het Wellington toe getrek en hul vier kinders was van hul eerste skooldag af tot die laaste dag in matriek op Hugenote. Paul, ’n reproduksiefisioloog, en Stephen, ’n tuinboukundige, woon nou ook op Wellington en hul vier en drie kinders onderskeidelik, is en was ook almal in Hugenote Laer- en Hoërskool. “Ons hou die skole aan die gang,” spot Adrian. “Ons kom eintlik van Suid-Afrika af, maar nou is Wellington ons tuiste. “Ons het huise in Port Elizabeth, Bloemfontein en Pretoria, want ons moet baie reis na ons besigheidsondernemings en dis nie lekker om altyd in hotelle te bly nie. Maar ons woon permanent in Wellington omdat dit vir ons lekker is hier.” Sedert die vestiging op Wellington, het die maatskappy uitgebrei tot ’n grootmeneer in die residensiële en kommersiële eiendomsontwikkelingsmark, met ’n personeel van 130 by kantore landwyd. Dr Reggie King, mediese dokter en seun van direkteur dr Paul King, het intussen ook by die besigheid aangesluit. Benewens die eiendomsontwikkelings bied King Financial Holdings eiendomsbeleggings aan kliënte, asook ondersteuningsdienste soos verbande, huurderplasing, huurvordering en onderhoud van eiendomme. Hulle makelaars verskaf ook finansiële beplanning en mediese en korttermynversekering aan kliënte. Uitsluitlik ’n familiebesigheid, praat die Kings uit een mond oor die redes vir hul sukses. “Ons het ’n enkel filosofie – persoonlike aandag en ’n holistiese benadering tot welvaartskepping. Elke kliënt het ander behoeftes. “Soos ’n maatskappy groei, word dit ’n uitdaging om vol te hou met ’n hands-on bedryfsfilosofie. “Ons besef terdeë dat hierdie benadering ’n belangrike rede is vir ons groei en daarom bly ons toegewyd daaraan, ongeag van hoe groot ons word,” sê Adrian. Van hul grootste ontwikkelings is in die Oos-Kaap, met King’s Court in Walmer en King’s Mall in Gonubie wat saam ’n belegging van R500 miljoen uitmaak. King Financial Holdings besit 40% van Intercare, ’n primêre gesondheidsgroep. Dan is daar die aandeel in Marina Landscaping, ’n nasionale besigheidsonderneming wat nou kontrakte losgeslaan het om plante na Dubai uit te voer en die landskapering by ’n nuwe ontwikkeling te doen. Maar die Kings skeep nie vir Wellington af nie. Bainskloof Estate, ’n R180 miljoen private oordontwikkeling teen die hange van Bainskloof buite die dorp, is een van die nuutste projekte van die King familie. “Dis vir ons heerlik,” vertel Reggie, “so naby aan die huis.” Kopers van die 128 luuks gemeubileerde, R1,48 miljoen deeltitel-wooneenhede wat opgerig word, kry ’n aandeel in die apartement-oordhotel en die bykomende fasiliteite - ’n restaurant, onthaalareas, swembad, trougeriewe met kapél en amfiteater asook konferensie- en opleidingsfasilieite. Bainskloof Estate open Oktober volgende jaar sy deure. Die Kings “glo in die goedheid van mense” en onderskryf so stilweg hul leuse van “Ons verander kliënte se lewens – ten goede”.
More
News
|