Gardens benut kanse
2008-08-28
YOUNG GARDENS het Saterdag hul ligakanse lewendig gehou toe hulle die voorlopers in die liga, River- stones, met 17-13 getroef het op Gardens Park. Die rustydtelling was 10-6 in Gardens se guns. Ten spyte van die gure weersomstandighede was dit van die begin af duidelik dat Gardens die wedstryd met aanvallende spel wou benader. Veral Gardens se agterlyn het met goeie hardlooplyne en flinke hantering die manne van Riverstones laat bontstaan. Riverstones het voorlangs vir Gardens harde bene laat kou en was dit nie vir oorgretigheid en swak besluitneming nie, kon Riverstones maklik die wedstryd in hul guns laat swaai het. Riverstones se besluite om die kantlyn op te soek, eerder as om pale toe te skop, het bygedra tot die span se ondergang. Gardens se driedrukkers was die agtsteman Joe Lipp en die buitesenter Ashwill Abrahams. Die heelagter Justen van Schoor was in die kol met ’n doel- en strafskop terwyl Tino Prins ’n skepskop oorgeklits het. Gardens se tweede span is tans die alleenvoorlopers ná hulle vir Riverstones met 13-10 geklop het. Gardens se derde span het met 5-35 vasgeval. Saterdag speel Gardens in ’n wegwedstryd teen Windmeul. Albei spanne is steeds onoorwonne in die tweede ronde van die kompetisie.
More
News
|