Die Blondes by wynfees
2008-08-28
AS deel van Franschhoek Uncorked, die jaarlikse wynfees in Franschhoek, bied La Motte Wynlandgoed twee uitvoerings aan deur die gewilde Blondes Vrydag 29 en Saterdag 30 Augustus om 19:00 in die ou rooiwynkelder op La Motte Wynlandgoed. Die afgelope twee jaar het Zorada Temmingh en Elna van der Merwe met hulle program van verwerkings van klassieke en rock-musiek op twee klaviere vol sale getrek by Aardklop, Cultivaria, KKNK 2007, Hartfees en Volksbladfees. Hulle eerste DVD word in Oktober vanjaar vrygestel. Vir La Motte het dié twee blonde pianiste van Stellenbosch spesiaal ’n program saamgestel. Die eerste helfte bestaan uit twee medleys, die eerste met van die bekendste melodieë van Bach, wat met vernuf inmekaar vervleg word. Daarna volg Boland Blues waarin 12 volkswysies in 12 verskillende toonsoorte aangebied word. Die tweede helfte is ’n potpourri van die Beatles se grootste treffers. Kaartjies is R110 en sluit in ’n glasie landgoedwyn by aankoms en ’n vingerete ná afloop van die uitvoering. Vir navrae en kaartjies, skakel Rienie by 021-876-8000.
More
News
|