Tiere wys tande
2008-08-28
YOUNG PEOPLES moes Saterdag op Goodwood ’n partydige skeidsregter en reënweer oorkom om die tuisspan met 25-16 baas te raak. Peoples het in die eerste vyftien minute sterk aangeval, maar verskeie kanse het verlore gegaan as gevolg van swak opsies en oorgretigheid. Goodwood het hierna beheer oor die wedstryd geneem en vinnig met 10-0 voorgeloop ná ’n drie en ’n strafdoel. Peoples se slot Glenver Kimber het teruggeantwoord toe hy van ’n losgemaal weggebreek het en die stut, Cheslyn Malherbe, weggestuur vir ’n drie. Die spanne het gaan rus met die telling op 13-10 vir Goodwood. Luantion Abelse se drie het, kort na rustyd, die Tiere laat voorloop met 15-13. Ná ontoelaatbare spel deur Peoples het Goodwood hul voorsprong gerek na 16-15, maar die Tiere se Dominique Daniels het sy span vinnig weer met 18-16 laat voorloop na hy ’n strafdoel behaal het. Goodwood het in die laaste vyf minute van die wedstryde herhaalde strafdoele gekry om die wedstryd te beklink, maar dit was onsuksesvol. Ná Goodwood die soveelste strafdoel verbrou het, het die Tiere behoorlik druk op hul opponente toegepas wat gelei het tot die wendrie deur Manie Adams. Peoples was uiteindelik baie ongelukkig om nie ’n bonuspuntdrie te behaal nie aangesien die bal verby Charlyn Williams aangegee is met net die doellyn in sig. Peoples se tweede span het hul kragmeting met 17-0 gewen en die derde span het met 22-27 vasgeval. Young Peoples speel Saterdag sy laaste tuiswedstryd op Daljosafat teen Valsbaai. ’n Visbraai word na afloop van die wedstryd aangebied teen R25.
More
News
|