Rose ryg drieë in
2008-08-28
Jaco van Wyk
ROSES UNITED het Saterdag bewys dat hulle nie verniet vir Boland gaan verteenwoordig by die Klubkampioenskappe op Stellenbosch nie. Die manne van Wellington het sowaar, op ’n nat en koue Pelikaanpark, die harte van hul toeskouers aan die brand gespeel toe hulle ’n 71-10 oorwinning oor Montagu Villagers behaal het. Met Justin Morgan wat verantwoordelik was vir vyf van sy span se elf drieë, het die Rose hul vermoë om aan te val weereens onderstreep met ’n absoluut eensydige rugbyvertoning. Die Rose weet egter nie nét hoe om deur ’n lyn te sny nie. As dit by skrumtyd kom, weet hulle hoe om die pap dik aan te maak, en wat hul verdediging aanbetref weet die Rose hoe om ’n teenstander pap te lak. Volgens die Rose se afrigter, Abel Davids, is die spogvertoning ’n resultaat van die harde werk wat sy span op die oefenveld insit. “Dié oorwinning kan grotendeels toegeskryf word aan die feit dat die Rose die afgelope drie weke kliphard gewerk het aan hul fiksheid en afronding. “Sommige spelers wou ook die keurders nog ’n laaste keer beïndruk voor die kies van die groep wat die span gaan verteenwoordig by die Nasionale klubkampioenskappe wat op 7 September in Stellenbosch begin,” sê Davids. Saam met Morgan het Jaquin Jansen en Cornel Hendricks stof geskop in die oë van hul opponente, terwyl John Johnson, Alrich Erasmus en Burton Abrahams puik vertoon het voorlangs. Die Rose se ander driedrukkers was Cornel Hendricks, Alrich Erasmus, James Davids, Franzil September, John-Lee Nortje en Jaquin Jansen. Die Rose sal nie eerskomende naweek in aksie wees nie aangesien die manne in Saldanhabaai gaan saamtrek vir hul laaste oefenkamp.
More
News
|