Lekker stories op 'n hoë noot
2008-08-28
IN September verskyn ’n versamelbundel van PH Nortjé se sketse onder die titel “Op ’n hoë noot: die lekkerste stories van PH Nortjé”. PH Nortjé (87) of Hennie Nortjie soos sy vriende hom ken, was jare gelede skoolhoof van Hugenote Primęr, en is later as dosent in opvoedkunde by die Wellingtonse Onderwyskollege aangestel. Hy is bevorder tot vise-rektor en het in 1982 waargeneem as rektor. Hy het in 1983 afgetree na 42 jaar in die onderwys, en na die Strand verhuis. “Toe ek die Hugenote Primęr-pos aanvaar, was ek en my vrou omtrent ’n jaar getroud en ons het toe op Riversdal gewoon. “Dit is vir my moeilik om vandag die jare op Wellington te beskryf, behalwe dat ons baie gelukkig daar was. Ons was onmiddellik tuis in die dorp, en van ons gelukkigste jare was daar. Dit is asof iets van die Andrew Murray-tradisie op een of ander manier daar voortgeleef het.” Hy vertel dat hy vroeg in sy skryfloopbaan besef het dat as hy met gesag wou skryf, hy oor mense wat hy ken moet skryf. Met ’n bietjie humor. Almal het deurgeloop, mede-Wellingtonners, vriende en sy huisgesin. Om hom was daar stories in oorvloed. Hy het geskryf oor die molplaag in sy tuin, en oor hoe om nie jou eie motorhuis te bou nie. Dan was daar die dag wat hy ’n pak eksamenvraestelle op sy motor se dak vergeet het. “Ek was toe by die kollege,” vertel hy. “Dis eksamentyd en ek het omtrent 150 studente, en elke vraestel is tot twintig bladsye. Ek was haastig en op pad na ’n vergadering. “Ek was al by die kollege toe ek besef dat ek die vraestelle wat ek in my hand gehad ek, op die motor se dak vergeet het.” Dit kos toe terug ry huis toe en die los velle papiere in die straat en in die tuine op te tel en weer bymekaar sit - twee dae se werk om dit uit te sorteer. Stapels papiere het oral gelę vir dae lank - die hele gang af tot in die sonkamer. Hy onthou dat een storie veral baie opslae gemaak het: die een oor die rugbywedstryd tussen die kerk se ouderlinge en diakens. “Daar was nooit so ’n wedstryd nie,” verduidelik hy. “Dit was alles denkbeeldig. Ek was toe hoof-ouderling en ek dog op ’n dag dit is tyd dat die diakens teen die ouderlinge rugby speel om geld in te samel vir die kerk se orrel. “Die storie se naam was “Ter wille van ’n orrel”, maar toe dit klaar is, was ek sommer baie bekommerd dat ek ’n klomp nonsens geskryf het.” Die rede vir die bekommernis was die beskrywing van een van die karakters wat soos ‘n stootskraper oor die rugbyveld sou kon beweeg. Hy soek toe ’n tweede opinie en besluit om eers die storie op sy groep mansstudente uit te toets. “Vandag moet ek vir julle ’n guns vra, sę ek. Ek het ’n storie geskryf oor ’n denkbeeldige rugbywedstryd, en ek wil vir julle as proefkonyne gebruik. “Ek gaan die storie lees, maar julle moet baie eerlik wees. As ek nonsens geskryf het, skeur ek dit net hier op. Toe ek klaar is, begin hulle sommer hande klap. En ek besluit net daar om dit aan die Huisgenoot te stuur.” So word die storie gepubliseer. “Flappie Lochner, die bekende rugbyspeler, is toe ook vise-rektor en ek kry hom die dag in die straat. Jong, Flappie, sę ek vir hom, ek is baie bekommerd. “Daardie storie wat nou in die Huisgenoot verskyn het. Die Basson karakter. Weet jy ek is dood bekommerd oor daardie karakter. As daardie man kwaad is vir my, slaat hy my dood en ek wil nie met hom kwaai vriende wees nie. “Nee man, antwoord Flappie vir my, jy bekommer jou verniet. Ek kry vir hom gister, en sę, ek sien Nortjé het jou naam in sy storie gebruik. “Jy sę, antwoord hy, moenie praat nie, ek slaap snags met daardie Huisgenoot onder my kopkussing. “Nee Henry, sę Flappie, jy bekommer jou verniet, daardie man is dood in sy skik met jou storie.” En wat van die storie oor Esmé se Borrelbad? Ek sien voor my geestesoog die Kromrivier vol suisende borrels en skuimtorings wat in Bovlei se akkerbome opklim. Nee, verseker PH Nortjé vir my, daardie een was nie denkbeeldig nie. Ten minste 99% waar, net sulke kleinighede is bygelas. Die bundel word geloods by die Breytenbach-sentrum op 13 September om 18:00.
More
News
|