Hokkiespan maak sy merk
2008-08-28
Jaco van Wyk
DIE eerste hokkiespan van Hoërskool Hugenote het vanjaar sy merk behoorlik gemaak en gesorg vir bewerasies in die broeke van ’n paar van die mees gevreesde spanne in die Wes-Kaap. Alhoewel twaalf oorwinnings in agtien wedstryde met die eerste oogopslag as taamlik gemiddeld mag voorkom, verdien dié span elke druppel krediet wat hul kant toe kom aangesien hulle nooit sonder ’n geveg gaan lê het nie. Indien mens in ag neem dat slegs die helfte van die span vanjaar in matriek is, lyk die toekoms blink vir Hugenote se eerste hokkiespan aangesien die ander helfte van die span wéér volgende jaar die Hugenotevlag hoog gaan swaai wanneer die seisoen weer begin. Vanjaar se hokkieseisoen het sommer met ’n soet smaak afgeskop met ’n 3-0 oorwinning oor Hoërskool Diamantveld tydens Hugenote se toer na Kimberley. Tydens die Aprilvakansie het Hugenote ook sy staal getoon by ’n hokkietoernooi in Stellenbosch waar hulle twee uit drie wedstryde gewen het. Gedurende ’n toernooi in Hermanus het Hugenote geen simpatie vir hul teenstanders gehad nie toe hulle as die algehele wenners van die toernooi aangewys is. Die span van Hugenote het ook besef dat indien hulle die beste span wil wees, moet hulle hulself teen die beste spanne laat geld - al beteken dit hulle moet speel teen spanne wat in ’n hoër liga as hulle is. Twee van Hugenote se grootste wedstryde het gekom toe hulle die sterk spanne van Hoër Jongenskool Paarl en Hoërskool Gimnasium aangedurf het. Hugenote was verseker die underdogs in beide wedstryde, maar die span van Wellington het geweier om dit as vanselfsprekend te aanvaar. Hugenote het ’n spogvertoning teen HJS gelewer om met 2-0 te seëvier, en was baie ongelukkig om met 0-1 vas te val teen Gim. Nog twee taai wedstryde was teen Hoërskool Strand en teen Brackenfell Hoër. Hugenote het dié twee wedstryde met 4-2 en 3-1 onderskeidelik gewen. Laasgenoemde wedstryd was onder baie moeilike toestande en op ’n baie modderige veld beslis. Ongelukkig vir Hugenote kon hulle nie die kroon span op ’n puik seisoen nie toe hulle, teen alle verwagtinge, verlede naweek, die knie gebuig het teen hul interskole-opponente, Swartland. Hugenote het met 1-3 verloor. Hugenote het egter nou die fondasie gelê waarop ’n magtige span gebou kan word in die komende paar jare - een wat aan Hugenote nog baie trots sal verskaf. * Hugenote se eerste dogters hokkiespan het verlede Saterdag ’n vyf jaar wendroogte teen Swartland gebreek toe hulle met 1-0 geseëvier het. Hes-Maré Dumminy het die wendoel vir Hugenote behaal.
More
News
|