Wees loslittig, of net anders, vir welsyn
2008-08-28
LOSLITDAG is ’n nasionale fondsinsamelings- en bewusmakingsprojek vir ses begunstigde nasionale welsynorganisasies wat dienste lewer op nasionale vlak en verteenwoordig meer as 400 verskillende tehuise, skole en werkswinkels binne die veld van gestremdhede. Die welsynsorganisasies is die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid in SA, SA Federasie vir Geestesgesondheid, Disabled People SA, Dowe Federasie vir SA, Epilepsie SA en SA Nasionale Raad vir Blindes. Ligstraal Skool in die Paarl is een van die skole wat verteenwoordig word deur die SA Federasie vir Geestesgesondheid en dus sal baat vind uit die Loslitdag-fondsinsameling. Almal in die Drakenstein-area word dus aangemoedig om deel te neem aan Loslitdag deur ’n R10 plakker te koop. Die doel van Loslitdag is om soveel moontlik persone regoor die land te kry om op Vrydag 5 September loslittig, sportief, ekstraordinêr of net anders as gewoonlik aan te trek. Elke persoon wat wil deelneem moet slegs die amptelike plakker dra om te wys dat hy of sy omgee vir persone met gestremdhede. Ligstraal Skool is ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes waar 231 leerders met verstandelike gestremdhede geakkommodeer word. Plakkers is beskikbaar by Ligstraal Skool. Skakel Joaline Lackay by 021-862-7182.
More
News
|