DBV man verdwyn spoorloos
2008-08-28
Lise Beyers
’n LEERLING-INSPEKTEUR van die Wellington DBV het verlede week spoorloos verdwyn met ’n bakkie van dié liefdadigheidsorganisasie. Grant Pannels, wat reeds nege maande verbonde is aan die DBV, het verlede Maandag gaan ondersoek instel na ’n klag van dieremishandeling in Versaillesstraat. Dit is die laaste keer wat personeellede hom gesien het. Christene van Wyk van die DBV het gesê dat hulle geweldig bekommerd is oor Pannels se welstand. “Ons het al die hospitale in die gebied geskakel en het uiteindelik die polisie ontbied. “Ons werk dikwels in gevaarlike areas, en vantevore is een van ons inspekteurs aan diens beroof. Dus is geen inspekteur veronderstel om alleen sekere gebiede binne te gaan nie.” Byna ’n week het verbygegaan en die enigste leidraad wat die polisie tot dusver kon opspoor, was die DBV bakkie waarmee Pannels gery het. Die bakkie is die Saterdag ná sy verdwyning gevind waar dit by ’n wal afgery het op die Roggelandpad. Die voertuig se kap is weg, en daar is skade aan die stuurstang. Maar van Pannels self is daar steeds geen teken nie. “Hy het hier op die perseel van die DBV gewoon, en binne sy kamer is sy bankkaart en bestuurderslisensie nog. “Dit lyk nie of hy van plan was om te verdwyn nie. “Pannels was ’n pligsgetroue werker hier wat baie belang gestel het in die welstand van diere. Hy het ’n belowende toekoms by ons gehad. “Ons kan maar net hoop dat hy ongedeerd is.” Enigiemand met inligting oor Pannels, kan vir insp Ballie Cupido skakel by 021-864- 9600.
More
News
|