Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nier gee nuwe lewe

Nier gee nuwe lewe
 
2008-08-28


“DIE persoon wat sy of haar nier aan my geskenk het, sal nooit weet hoe dit my lewe verander het nie,” sê Suzette Henrick van Wellington wat byna vier jaar gelede ’n nieroorplanting gehad het.

Henrick was 20 jaar siek met vergrote niere en moes op medikasie bly en kon net brood en groentes eet.

“As ek enigiets anders geeët het, het ek naar geword. Dit het so erg geword dat die dokter in 2004 besluit het ek moes ’n ander nier kry.

“Ek was baie gelukkig en het slegs drie maande gewag vir my nuwe nier,” babbel ’n sprankelende Henrick.

Sy sê sy sal nooit die aand vergeet toe die dokter haar gebel het nie.

“Dit was 08:30 die aand toe my dokter bel. Ek het aanvanklik gedink hy bel my om vir nog toetse te gaan. Maar toe die dokter sê hy het ’n nier vir my gekry, het ek die hele huis deurgehardloop en geskree ek gaan ’n nier kry.

“Ek het onmiddellik my man, wat toe in Amerika was, gebel. Hy was uit sy nate en het gesê hy het geweet ek bel omdat ek ’n nier gekry het, want dit was ’n ongewone tyd dat ek bel,” skerts sy voort.

Sy sê dat sy steeds medikasie moet gebruik.

“Die nuwe nier bly steeds ’n vreemde voorwerp in my liggaam en dus moet ek op medikasie bly sodat my sisteem opgebou kan word en nie die nier verwerp nie. My eie niere is steeds in my liggaam en is so groot dat dit my hele buikholte vul. My nuwe nier sit op my heup,” sê Henrick.

Sy kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om positief te bly nie.

“Die lewe is wonderlik. Daar is so baie mooi dinge in die natuur. Vir jou eie gesondheid moet mens altyd positief wees.

“Hierdie nier is ’n geskenk van die Here en ek probeer elke dag om positief te lewe. Ek kan weer eet wat ek wil sonder om my te bekommer dat ek sal naar word.”

Sy sê voordat sy die nuwe nier ontvang het, moes sy daagliks vier keer per dag ’n sakkie koppel met pype in haar buik om al die gifstowwe te verwyder wat na haar niere gaan.

Nierprobleme loop in haar familie.

“My pa en broer is aan nierversaking oorlede. My suster het twee maande gelede ’n nieroorplanting gehad en sy sterk goed aan. Sy moes vyf jaar wag vir ’n nier. Daar is ander mense in ons familie wat dieselfde probleem het,” sê sy hartseer.

Sy moedig mense baie sterk aan om as orgaanskenkers te registreer en sê dat die nuwe metodes van orgaanskenking deesdae minder pynlik is.

“Dit kan iemand se lewe so verander en selfs lewens red. Ek kan nie genoeg pleit by mense om hulself beskikbaar te stel as orgaanskenkers nie.

“Ek is self ’n orgaanskenker en as ek die dag heengaan, dan kan enige van my organe wat bruikbaar is, gebruik word,” het Henrick gesê.

Vir meer inligting oor Orgaanskenking, kontak die Stigting vir Orgaanskenking by www.odf.org.za of skakel die tolvrynommer 0800-226-611.




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za