Onkruid gaan waai
2008-08-28
Sieb Sieberhagen
DIE onkruid, wat reeds amper halflyf op die middelmannetjie tussen die N1 en die sirkel in Jan van Riebeeck staan, gaan eersdaags skoongemaak word. Dit volg op weke waar daar onduidelikheid by die publiek was oor wie se verantwoordelikheid dit is om dié ingang na Paarl aan die kant te hou. “Ons gaan die gedeelte van die N1 tot by die 60 spoedgrensbordjie skoonmaak. Dit is tot so 600 meter voor die sirkel. Die gedeelte verder tot by die sirkel is die Drakenstein Munisipaliteit se verantwoordelikheid,” sê Piet Stofberg, waarnemende padingenieur van die provinsiale paaie-afdeling in Paarl. “Die besluit is op 1 Julie vanjaar geneem. Ons gaan nou ’n groot poging aanwend om so vinnig moontlik ons gedeelte skoon te maak. Ons gaan dit departementeel self doen. In ’n latere stadium sal ons dit op tender uitsit,” sê hy. Die munisipale gedeelte is onlangs skoongemaak. Groot rotse is aangebring vir ’n beplande rotstuin op die munisipale gedeelte. Aanvanklik is ooreengekom dat die munisipaliteit die hele gedeelte sou skoonmaak. Die besluit is nou herroep.
More
News
|