Paarlse polisieman pas nou groot name op
2008-08-28
Lise Beyers
’n OUD-POLISIEMAN van die Paarl is tans verantwoordelik vir die veiligheid van sommige van die land se hooggeplaaste politici. Supt André Roziers is ’n ou-bekende in die vallei. Hier het hy onder andere diep spore getrap as stasiebevelvoerder van Mbekweni en Groot Drakenstein. Hy het egter so twee jaar gelede gevoel dat die buitewêreld vir hom roep, en hy het aansoek gedoen vir ’n pos by die polisie se beskermingsdiens. Voordat hy sy oë kon uitvee, is hy as hoof van hierdie elite-diens aangestel met 240 mense onder sy bevel, en die lewens van talle hooggeplaastes is nou in sy hande. Hy en sy vrou Sharon en seun Chadley (8) het sak en pak na Johannesburg verhuis, terwyl sy dogter Shandré (17) verkies het om in die Paarl te bly om haar skoolloopbaan by Hoërskool Gimnasium te voltooi. “Hierdie nuwe werk van my het my horisonne heeltemal verbreed. Ek het van ’n taamlik rustige bestaan oornag gegaan na die gewoel van die buitewêreld. “Dit is baie opwindend en ek sal dit vir niks verruil nie.” Roziers was reeds verantwoordelik vir die veiligheid van wêreldleiers soos Bill Clinton en Kofi Annan, en dan ook vermaaklikheid- sterre soos Oprah Winfrey. “Tot dusver was ’n hoogtepunt vir my om in beheer te wees van die veiligheid tydens ’n funksie om die Springbokke terug te verwelkom na hul oorwinning verlede jaar by die Wêreldbeker. “Hier het ek die geleentheid gehad om blad te skud met baie van die Bokke, asook Nelson Mandela. “Ek het nou al ’n paar keer te doene gehad met Madiba en hy is ’n baie vriendelike oom. Mbeki sien ’n mens maar min, want hy bly so besig, maar sy vrou is dikwels onder my vlerk.” Vir Roziers is elke dag vol avontuur en opwinding. “Nooit het ek gedink dat ek van sulke nederige eerste spore in die Paarl sou styg tot so ’n groot pos nie.” * A Paarlite is now responsible for the safety of numerous politicians and celebrities.
More
News
|