Boland blink met beker
2008-08-28
BOLAND Kelder is vanjaar gekroon met die gesogte genl Smuts trofee by die SA Jongwynskou. Deur die jare het hierdie topkelder talle toekennings ontvang vir hul puik wyn. Maar die genl Smuts trofee het hulle keer op keer ontwyk. Vanjaar egter is hulle behoorlik beloon vir jare se harde werk, toe hulle Vrydag hierdie trofee ontvang het vir wynmaker Bernhard Smuts se verhoute Merlot. Die toekennings het plaasgevind tydens ’n spog-funksie op Oude Libertas, Stellenbosch. Vanjaar is ’n reuse 2036 jongwyne ingeskryf deur 179 produsente. Ander plaaslike wynkelders wat toekennings ontvang het, is Windmeul Wynkelder met die beste hout verouderde pinotage. Graham Beck Wines van Franschoek het die beste sauvignon blanc. Nelson’s Creek het koning gekraai met sy cabernet franc as die kampioen onder die vaandel van ander rooi kultivars. Die redelik nuwe kelder, Val de Vie Wines op die Wemmershoekpad buite die Paarl, het weggestap met die louere vir die beste hout verouderde shiraz. Vanjaar se toekennings is weereens ’n bewys dat hierdie streek sterk staan in die wynbedryf, het kenners beaam.
More
News
|