Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ons trots struikel

Ons trots struikel
 
2008-08-28

Lise Beyers

DIE gort is behoorlik gaar onder rugbygeesdriftiges, ná die skokkende vertonings van die Springbokke die afgelope paar weke.

Die Springbokke is volksbesit, en as hulle die volk teleurstel, dan wil hulle antwoorde hę.

Sedert die teleurstellende vertoning Saterdag, het die publiek begin Springbokbiltong soek. De Villiers veral, se bloed word gesoek en daar word reeds bespiegel oor sy ontslag.

Wat sę plaaslike rugbykenners oor die stand van die span en die verrigting van Springbokbreier, Peter de Villiers.

Hoërskool Gimnasium se seëvierende breier, Phillip Taylor, meen dat De Villiers te vinnig wegbeweeg het van die span se oorspronklike spelpatroon.

“As hy ’n nuwe wedstrydplan wou implementeer, moes dit oor ’n stadiger tydperk gedoen geword het.

“Die verkeerde kombinasie word ook beslis in die span gebruik. Daar is wel baie potensiaal in die span, maar hulle kort diepte.

“Met die regte kombinasies en die stadige implementering van De Villiers se speelplan, kan die Bokke weer tot hulle glorie terugkeer.”

Bolandbreier, Deon Davids, sien basiese foute raak, maar voorspel ’n goeie toekoms.

“Miskien is die publiek te ongeduldig met De Villiers, maar ek is positief oor sy speelplan en spankeuses.

“Daar is wel basiese foute wat die spelers telkemale pleeg. Hulle bly nie genoeg op hul voete nie en raak nie vinnig genoeg van die bal ontslae nie.

“Die voorspelers behoort ook meer dominant te wees om oor die voordeellyn te kom, sodat die agterspelers hieruit kan voordeel trek.”

John Claasen, afrigter van Paarl Rugbyklub, is oën­skynlik ontevrede met die Springbokke se spel.

“Die Villiers is ’n wenspan op ’n silwer skinkbord gegee. Hoekom lol hy daarmee? Die swakpunt by die span is beslis die afrigting, want daar is baie talent.

“Verder voel ek dat die spelers nie as ’n span speel nie en wanneer spelers die bal kry, is hulle taamlik suinig daarmee. Daar is ook nie genoeg momentum in die spel nie.”

Klaas Cloete, verbonde aan Boland Rugby se spel-ontwikkeling, is positief oor De Villiers se planne.

“Wanneer ’n nuwe afrigter gekies word, moet hy die geleentheid gegee word om sy spelpatroon te vestig.

“Hierdie speelplan sal nie noodwendig sekere spelers pas nie, maar met tyd sal hulle aanpas.

“Party van die spelers het wel reeds ingekoop in die nuwe speelplan, maar wat kommerwekkend is, is die gebrek aan toewyding van sekere spelers.”

Boishaai-rugbyman Richard Visage reken ook dat té veel té vinnig gebeur het.

“Die talent is daar, maar die spel is deurmekaar. Die balhantering is swak en kom elke keer die span duur te staan. Indien ’n afrigter dit nodig vind om ’n nuwe speelplan in te bring, moet dit stuk-stuk bewerk stellig word.”

Voormalige rugbyskrywer Fritz Joubert wat oor 40 jaar toere met die Springbokke meegemaak het, is van mening dat Peter de Villiers nie persoonlik oor die Bokke se swak vertonings gekritiseer moet word nie.

“Hy het hom immers nie self aangestel nie. Die probleem lę voor die deur van SA Rugby wie se keuse op hom geval het en nie op ’n afrigter wat meer ondervinding het nie.

“’n Mens kon ’n ruk gelede al sien dat die Springbok-wa se wiele gaan afval. Teen ’n verswakte Argentinië was die Bokke se spel in die eerste 30 minute absoluut pateties.

“Reeds toe was die skrif aan die muur: die Bokke het nie ’n losvoorspelerkombinasie wat op die grond met die teenstanders om die los bal kan meeding nie. Dit is die kern van die probleem.

“Tweedens, wanneer die Bokke die bal in die hand het, maak hulle hopeloos te veel foute.

“Derdens is gesoute Bokke wat verlede jaar in die Węreldbekertoernooi staatmakers was, heeltemal van stryk. Hier dink ‘n mens aan James en Matfield.

“Laastens, ’n mens verander nie sommer aan ’n spelpatroon wat in die verlede vir jou gewerk het nie.”

Iggie Korabie, uitblinker van die Wellington Roses, is self nie ’n Springbok-ondersteuner nie, maar wel ’n Franse haan, juis weens die finesse van hul spel. Hy maan egter die publiek om ’n bietjie geduld te hę.

“Rugby en braaivleis is mos deel van ons en ons is geneig om baie ongeduldig te wees as ons nie dadelik resultate sien nie. Ek is oortuig daarvan dat wanneer die span weer die leierskap van John Smit het, sal dinge sommer dadelik beter gaan.

“Mettertyd sal die span De Villiers se spel vind.”

* Rugby enthusiasts are baying for blood after the weak performances of the Springboks during the past few week.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za