Is goeie maniere vir altyd uit die mode?
2008-08-28
EK het onlangs die voorreg gehad om ’n vroue-aand, aangebied deur een van Wellington se laerskole, by te woon. Die gaskunstenaar was die doyen van die Afrikaanse teater, Wilna Snyman. Wat ’n belewenis was haar vertoning nie. Dit het die formaat aangeneem van ’n biografiese lewensvertelling en baie van haar staaltjies en kwellings het my (en ek glo vele ander dames) baie na aan die hart gelê. Wat egter ’n viering van vrouwees moes wees, het ontaard in ’n baie onaangename byeenkoms. Die seremoniemeester het vergeefs probeer praat. Daar is sonder skaamte gelag en gesels tydens die inleidende toesprake. Maar wat die meeste geskok het, is dat hierdie dames tydens die gaskunstenaar se vertoning, steeds gesels het, selfone aanhoudend gelui het en beantwoord is en hordes dames van hulle sitplekke opgestaan, met klipharde voetstappe die saal verlaat het en nie eens die respek gehad het om die deur sag agter hulle toe te maak nie. Self nie eers ’n skertsende verwysing deur Wilna Snyman na ‘n kriewelende toeskouer by ’n oorsese vertoning kon hierdie dames die lig laat sien nie. Sjoe Wellington, ek is doodseker julle sal nie so optree tydens ’n vertoning by die Kunstekaap teater nie. Ek woon gereeld vertonings in Kaapstad se teaters by en sulke gedrag is ondenkbaar. Wat het geword van goeie maniere en etiket? H Smit
More
News
|