Dienslewering kom nie eerste in Drakenstein
2008-08-28
EK verwys na die brief in die uitgawe van 21 Augustus waarin Bekommerde Belastingbetaler sy kommer uitspreek oor die swak dienslewering tydens die Vrouedag-feesvieringe by die Munisipaliteit. Vrouedag was Saterdag 9 Augustus, hoekom word die feesvieringe in werkstyd op die Vrydag gehou en nie die Saterdag nie? Dan was die publiek nie hierdeur geraak nie. Ek weet nie by wie my simpatie lê nie, by die belastingbetalers oor die swak dienslewering, of by die vrouens van Drakenstein Munisipaliteit omdat hulle toegelaat was om aan die Vrouedagfeesvieringe te kon deelneem en daar nou ’n bohaai daaroor gemaak word, of by myself omdat Vrouedagfeesvieringe vir ons taboe was tydens werksure. Ek is ’n werknemer by Swartland Munisipaliteit op Malmesbury en geen Vrouedagfeesvieringe was vir ons beskore nie. Dienslewering is No 1 by ons Raad en Munisipale Bestuurder. Geen funksie of kantoor was geraak deur Vrouedag nie. Ons werksure en funksies het normaal voortgegaan. Gaan kyk na ons statistieke oor dienslewering en dan sal u kan sien hoekom Swartland Munisipaliteit die afgelope twee jaar landwyd bekroon is as die Skoonste Dorp. Behalwe die prestasie het ons ook die Vuna toekenning ontvang vir dienslewering. Ons kantore sluit nie eens tussen Kersfees en Nuwejaar soos ander Munisipaliteite nie, omdat dienslewering moet voortgaan. Natuurlik raak ons ook maar nors en voel soms of ons “wees” behandel word, maar op die einde is dienslewering die hoofdoel hoekom jy ’n munisipale amptenaar is. Hierdeur sê ek nie dat daar nie feesvieringe moet wees nie, maar elke Direkteur moet sy afdeling so beheer en bestuur dat geen dienslewering deur die afwesigheid van amptenare geraak word nie. Dankie Swartland Munisipaliteit dat u dienslewering eerste stel. P Taljaard
More
News
|