Die slapende skoonheid kom kuier
2008-09-04
DIE Kanna-benoemde kinderteaterstuk, Die slapende skoonheid, is Saterdag te sien by die Ou Meul-teater in Paarl om 10:00. Dié kinderteaterstuk bring ’n vars kykie op die baie bekende sprokie deur dit aan te bied dat oud en jonk hulleself sal geniet. Die produksie vertel die verhaal van Flora, die slapende prinses, en haar ervaringe in Lappiesdorp. Flora raak vriende met Kaspaas, die pratende vullisblik, terwyl haar oppassers (die twee goeie feëtjies Naas en Florinda) vir haar die geheim wegsteek dat sy eintlik ’n prinses is. Insomnia, die wrede heks, wil ontslae raak van Flora en sodoende die koninkryk oorneem en self regeer. Die produksie bereik ’n hoogtepunt wanneer die goeie prins Gawie teen Insomnia baklei en Flora se lewe moet red. Poppespel en elemente van pantomime sorg vir ’n geloofwaardige fantasiewêreld waar die karakters die gehoor meevoer en op ’n prettige manier ook die jonger gehoorlede opvoed. Die Suid-Afrikaanse konteks waarin die stuk afspeel, sorg vir ’n wye kulturele ervaring waarmee elke gehoorlid gemaklik kan identifiseer.
More
News
|