Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Teater uit die boonste rakke tydens Cultivaria

Teater uit die boonste rakke tydens Cultivaria
 
2008-09-04


BESOEKERS aan vanjaar se Cultivaria kunstefees in die Paarl kan uitsien na ’n wye verskeidenheid teaterproduksies van drama tot komedie en musiekteater.

Van Suid-Afrika se voorste akteurs sal in aksie wees op die Bolandse dorp van 25 tot 28 September.

Verhooglegendes soos Wilna Snyman en Paul Ehlers sal in die Sasko Ou Meul­- ­­teater te sien wees.

Snyman kyk terug op haar loopbaan in Nooit is ’n Lang Tyd, terwyl Ehlers saamspan met sanger/komponis Stef Kruger vir ’n blinknuwe program van gedigte en voorlesings in Prinse van die Wapad.

Die land se top komediante kom ook Paarl toe om gehore se lagspiere te prikkel.

Die immergewilde Hannes Muller is terug in Groet die Grotman, maar vanjaar kry hy kompetisie van sy vroulike eweknie Karen Wessels in Groet die Grotvrou.

Marga van Rooy gaan teatergangers laat skaterlag in Aptyt, Marion Holm keer terug met die skreeusnaakse Cirque du Sussie en Dowwe Dolla slaan toe in Saal 10.

Oscar Petersen en David Isaacs staan reg met hulle lagwekkende Joe Barber for the People, terwyl Frank Opperman in die rol van Pottie Potgieter in Wyk 14 met die land se politiek die draak steek.

Bekende kunstenaars soos Richard van der Westhuizen maak ’n verskyning met Dorings op die Dansvloer en die talentvolle kombinasie van Luna Pieterse, Nicole Holm en Frieda van der Heever sal in Elders aan diens te sien wees.

Die unieke talent van Jaco Blomerus sal in die kollig geplaas word in Sonder Begeleiding, die verwerkings van Antjie Krog se eerste gedigte beloof om gehore mee te voer.

Die kleinspan kan ook gereed maak vir ’n fantastiese uitstappie vol pret en vermaak tydens die Cultivaria Kinderoggend.

Met gunsteling-karakters soos Liewe Heksie, Jakkie de Bruin, Dennis die Nar, Gorrie en die Grilgrot sowel as slangdemonstrasies en nog vele meer beloof die vertoning om die jongspan vir die hele oggend te vermaak.

Toegang tot die Moirs New Orleans Sekondêr Skoolsaal is gratis.

Andersins kan ouers gerus by die Liqui­fruit Barney’s kinderteater inloer waar kinders heeldag onder toesig vermaak word.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Sirkus sal daagliks in aksie wees en opvoerings van Hansie en Grietjie en Die Keiser se nuwe klere sal die jongspan in vervoering hê. Daar’s ook ’n mallemeule, treintjieritte en heerlike eetgoed vir junior feesgangers.

Kaartjiebesprekings kan aanlyn gedoen word by www.cultivaria.com. Slegs kredietkaartbetalings word aanvaar.

Telefoniese navrae kan gedoen word byh 021-872-9754.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za