Glorie terug vir Bok-breier
2008-09-04
Sieb Sieberhagen
DIE Bokke se nuwe spelpatroon, waar spelers die bal beskikbaar hou en die geleentheid kry om hardlooprugby te speel, het die afgelope paar weke vir Peter de Villiers felle kritiek beteken, maar ná Saterdag se spogvertoning is die kritici se monde gesnoer. Die Springbokke het die Wallabies met 53-8 oorrompel en weer glimlagte gesit op die gesigte van Suid-Afrikaners. Selfs in die Paarl is ons “Napoleon” verlede week gekritiseer, net soos Jake White en Carel du Plessis ook kwaai deurgeloop het as die Bokke onderpresteer. Bok-ondersteuners soek oorwinnings, anders soek hulle jou bloed. Baie het die afgelope week vir De Villiers in die bresse getree, veral ná Saterdag se skitterwedstryd. Op geselsprogramme was die tonge omtrent los oor Paarl se Peter. ’n Wellingtonner, ene Lorraine, het ingebel na die TV program Supersport om vir De Villiers op te kom: “Ons moet hom ondersteun. Kyk maar wat het die Bokke Saterdag vermag,” sę sy. Paarl Rugbyklub by monde van hul voorsitter, Petrie Theart, sę dat, hoewel dit tyd sal neem om De Villiers se planne te implimenteer, hulle die Springbokafrigter ten volle ondersteun (sien brieweblad). “Ons weet hy maak baie opofferinge om hom tot die hoogste in afrigting te bekwaam. “Sy passie vir rugby is prysenswaardig. Sy prestasies moet as inspirasie vir die mense in die Drakenstein-gebied dien,” sę hy. Elkeen is geregtig op ’n mening, en of hardlooprugby die regte resep is vir Bok-rugby, is nog ’n ope vraag. Een ding is egter seker: die Bokke het die naweek die Aussies dronk gehardloop - en dit met Peter se plan.
More
News
|