Veedief loop hom vas
2008-09-04
Lise Beyers
SKAPE word in die Klapmuts omgewing een vir een weggedra deur veediewe. Maar hul lont is verlede week geknip deur die parate speurwerk van ’n plaaslike boer en die Klapmuts polisie. Nadat hulle verlede Woensdagaand inligting ontvang het dat veediewe onderweg was na Groenfontein-plaas, is patrollies na die gebied gestuur, en die boer, Smuts du Toit, het ook self lê en wag vir die skuldiges. Hulle het daarin geslaag om ’n jong man aan te keer wat in die besit was van ’n geslagte skaap. By nadere ondersoek is die vel, kop en afval gevind waar die skaap op Groenfontein geslag is. Veediefstal is niks nuuts hier nie. Du Toit het in die afgelope drie maande 30 skape op dié manier verloor. Maak dit dan 30 skape wat dragtig is, dan is dit maklik R1000 stuk. Selfs die bekende kaas-plaas, Fairview, loop onder hierdie diewe deur, en het reeds waardevolle ingevoerde melkskape ter waar- de van R20 000 verloor. Volgens die polisie beweeg georganiseer- de groepe veediewe vanuit Bloekombos en Kraaifontein na dié gebied, alleenlik vir hierdie doeleinde. “In die verlede het hulle heinings stukkend gesny en selfs troppe skaap aangejaag van een plaas na die ander. So volg hulle die pad na Klipheuwel, en van daar af is hulle sommer voor sonop by Bloekombos. “Dit is geweldig moeilik om hierdie diewe vas te trek, want dit is ’n groot plaas-area wat onder Klapmuts val. “En dan is hulle slegs in die nag doenig, wanneer hulle nie gesien kan word nie. “Maar ons is reg vir hulle. Ons ry soveel patrollies moontlik snags en volg alle leidrade op. Alhoewel verlede week se arrestasie die eerste een vir veediefstal in dié gebied is, is ons op hulle spoor.” Du Toit het gesê dat alhoewel talle boere in die gebied weens veediefstal opgehou het om met vee te boer, is hy vasbeslote om voort te gaan. “Ek gaan nie deur hierdie diewe gyselaar gehou word nie. Ons raak net al hoe slimmer, en sal hulle vastrek. “Dit is verskriklik hoe hulle tydens hierdie tipe diefstal diere mishandel. Dikwels het die ooie lammers by hulle wat nie die lang pad kan byhou nie, en dan vrek hulle van pure uitputting. “In ander gevalle word die skaap soms iewers vasgemaak as die dag nader kom, en dan kom hulle nie terug vir die skaap nie. Hulle vrek uiteindelik van honger en dors.” Daar word bereken dat tydens die afgelope vyf jaar is byna 200 000 stuks vee landwyd jaarliks gesteel. Daar is wel tegnologie beskikbaar wat hierdie diewe se planne kan kortknip. Die Tramirloc Stelsel is ontwikkel in die Vrystaat, juis deur boere wat hierdie verliese erg voel. ’n Merkstafie word om die dier se nek gehang en stuur radioseine na veldstasies. Hierdie stasies word op hoë pale gemonteer en volgens ’n netwerk op die plaas opgerig. Alle inligting word herlei na nog ’n stasie by die boer se huis. Hiervandaan kan hy die beweging van sy diere op ’n kaart van die plaas op ’n rekenaar dophou. Indien die diere uit die netwerk beweeg, sal ’n alarm by die boer geaktiveer word, so ook as die merker afgehaal word. Talle suksesse is al landwyd hiermee behaal. * A man has been arrested in connection with livestock theft in Klapmuts.
More
News
|