Violets hou beste vir laaste
2008-09-04
VIOLETS het Saterdag teen Allandale sy laaste ligawedstryd vir die seisoen gespeel en op ’n sopnat veld op Groot Drakenstein die beste vir laaste gehou om met 18-12 te seëvier. Violets het egter gesorg dat die nat toestande hulle nie onderkry nie en die voor- en agterspelers het die nat bal hanteer asof dit ’n mooi somersdag was. Allandale het in die eerste helfte geslaag met drie strafdoele teenoor Violets se twee strafdoele wat behaal is deur die briljante losskakel William Hendricks. Die rustydtelling was 9-6 in Allandale se guns. In die tweede helfte het Violets die meeste van die aanvalswerk gedoen en sodoende twee drieë behaal. Met Violets wat gesorg het vir nóg ’n doelskop, kon Allandale slegs terugantwoord met twee doelskoppe. Sodoende het Violets die wedstryd beklink met 18-12. Violets se groot uitblinkers onder die voorspelers was Gershwin “The Beast” Mouton, Hambly Marquad, Samaai “Pêle” en Tyron Uren. Agterlangs het Dorian “Pikkie” Isaacs en Jeremy Klaasen die een aanval na die ander geloods. Klaasen en Uren het Violets se drieë behaal. Violets se tweede en derde span het ook skoonskip gemaak deur onderskeidelik met 17-0 en 12-0 te seëvier. Violets oefen steeds elke Dinsdag en Donderdag met die oog op die kies van spanne vir die derbywedstryd wat op 20 September plaasvind. Die vroue- span oefen elke Woensdag - alle belangstellendes is welkom.
More
News
|