Pniel Villagers verniel Strand United
2008-09-04
DIE besoekende span van Pniel Villagers het Saterdag geen moeite ondervind nie toe hulle die sukkelende span van Strand United oortuigend met 59-17 geklop het. Pniel het nege drieë in die proses gedruk, waarvan sewe verdoel is. Dit was uit die staanspoor duidelik dat dit ’n lang middag vir die tuisspan sou wees toe daar in die eerste tien minute reeds vier verdoelde drieë aangeteken was om sodoende ’n bonuspunt te verseker. Die rustydtelling was 40-5 vir Pniel. Die Pnielspan het in die tweede helfte teen ’n stormsterk noordweste wind gespeel en baie van hul aanvalle het skipbreuk gely. Die grondslag vir die oorwinning is deur Pniel se agttal gelê en hier moet die naam van die slot Warren Williams genoem word. Williams het nie net homself in die lynstane laat geld nie, maar sy lakwerk en werkverrigting in die vastelos was van hoogstaande gehalte. Agterlangs was Angelo Nelson die groot angel met drie drieë. Indien Pniel hul laaste twee wedstryde kan wen, staan hulle ’n goeie kans om tweede in die liga te eindig. Pniel se ander driedrukkers was Gavin Petersen (twee drieë), Earl Cyster, Eugene Francis, Irvin Lackay en Ellroy Arendse. Arendse het met sewe doelskoppe geslaag.
More
News
|