Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nóg ’n plaaslike wêreldkampioen

Nóg ’n plaaslike wêreldkampioen
 
2008-09-04

Jaco van Wyk

“DIT is die ongelooflikste gevoel as jy op jou perd sit, met jou groen baadjie aan, terwyl jou landsvlag gehys word en die Suid-Afrikaanse volkslied speel in die agtergrond. Ek dink dit is net een van daardie oomblikke wat ek vir altyd sal onthou.”

Dit is hoe Jana le Roux die gevoel beskryf toe sy onlangs die Suid-Afrikaanse Pensteek-span (Equestrian Tentpegging) verteenwoordig het in ’n toets teen Australië.

Opgesom behels Pensteek dat ’n ruiter op sy perd gallop terwyl hy grond-teikens probeer optel met ’n lans of swaard.

Die 24-jarige ruiter wat haar hoërskoolloopbaan ook in groen kleure deurgebring het, - die groen van Hoër Meisieskool Paarl - het op die dag van die toets, wat in Vanderbijlpark, Johannesburg, plaasgevind het, ook gevoel hoe dit voel om as die wêreldkampioen gekroon te word. Saam met die res van die SA Vroue Pensteek-span het Le Roux-hulle koning gekraai oor die Australiërs en sodoende die titel van wêreldkampioen ingepalm.

Volgens Le Roux, wat dié sport by die Slot van die Paarl Gymkanaklub beoefen, het haar groot liefde vir dié sport reeds op vyfjarige ouderdom begin toe sy dit begin geniet het om op ’n ponie se rug te sit.

“Op sewe het ek besluit om Pensteek te begin doen aangesien my drie broers en suster dit toe reeds gedoen het.”

As junior was Le Roux vanaf dertienjarige ouderdom, tot en met haar matriekjaar, elke jaar ’n lid van die WP vrouespan. Op vyftien- en sestienjarige ouderdom is sy gekies vir die SA dogterspan.

Ná skool het Le Roux seniors begin ry en vanaf negentienjarige ouderdom het sy elke jaar die WP vrouespan gehaal.

“In 2006 het my groot droom waar geword toe ek my Springbokkleure verwerf het en, met baie tyd en oefening, kon ek dit weer regkry in 2007.”

Sy is tydens die SA’s aangewys as die nommer een vroueruiter en het oor die algemeen (mans en vroue) die vyfde posisie beklee.

Volgens Le Roux was die toets teen Australië ’n ongelooflike ervaring aangesien dit die eerste keer was wat sy Suid-Afrika in ’n senior span verteenwoordig het.

Tydens dié toets moes elke Suid-Afri- kaanse ruiter twee perde verskaf, terwyl die mense van Noord-Wes Provinsie ook perde gegee het.

“Al die perde was dan in ’n poel gegooi en die name van die perde is deur die spanbestuurders getrek om te bepaal wie kry watter perd. Dit maak die kompetisie regverdig want sodoende ry geen Suid-Afrikaner met sy eie perd nie - net soos die Australiërs wat met vreemde perde moes ry.”

Wat Le Roux die meeste geniet van dié perdesport is die uitdaging wat sy op elke kompetisie ondervind, “want na 17 jaar kan mens steeds op jou eie doele en prestasies probeer verbeter.

“Pensteek is ’n sport vir mense wat ’n groot liefde het vir perde, die buitelewe en sosialisering,” sê Le Roux.

“Ek wil dit so lank doen as wat ek kan. Met die genade van die liewe Vader en goeie gesondheid sal ek die sport doen so lank ek kan opklim en solank as wat Donker, my perd, kan hardloop.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za