Kavaliers sê koebaai
2008-09-04
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers, ’n slapende hond van SA rugby wat met sy hope ervaring selfs die beste spanne op sy dag kan verras, gaan binnekort die meeste van sy groot kanonne moet groet. Met sommige spelers wat hul stewels vroeg moet ophang weens ouderdom, en aantreklike bedrae geld wat as die rugby-aas dien om belowende spelers na groener weivelde te lok, sit die Boland Kavaliers tans met ’n penarie aangesien hulle reeds aan die onderkant van die Curriebeker-rugbykompetisie se punteleer boer. Met veterane soos Piet van Zyl, Henley du Plessis, Fabian Brandt, John Daniels en Tommy Dixon wat binnekort hul rugby elders gaan speel of die spel finaal gaan groet, verloor die Bolandspan meer as 500 wedstryde se ervaring. Voeg hierby opwindende jong spelers soos Dries van Schalkwyk, Jean Botha, Dewald Duvenhage, Harry Vermaas en Francois Prinsloo, dan gaan die Kavaliers volgende seisoen sonder ’n paar van sy skerpste angels moet klaarkom. Volgens die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, is dit ’n geweldige terugslag en hoef ’n mens nie twee keer te dink om te besef dat dit ’n negatiewe invloed op die span gaan hê nie. “Om van jou mees ervare spelers in een seisoen te verloor, is ’n groot verlies vir enige span. “Ons verloor spelers soos Piet van Zyl wat tans staan op 137 wedstryde vir die Kavaliers, Henley du Plessis met 133 wedstryde, Fabian Brandt met 132 wedstryde en Tommy Dixon met 103 wedstryde,” sê Pienaar. “Voeg daarby ’n man soos John Daniels wat meer as 150 Curriebekerwedstryde op sy kerfstok het, dan besef jy watter impak dit op die span gaan hê.” Volgens Pienaar is daar ook geen finansiële inspuiting in sig, wat die Boland in staat stel om dié spelers te hou, of om nuwe spelers te koop nie. Pienaar sien egter die lig aan die anderkant van die tonnel en glo dit is ’n kans vir jong spelers om die groot tree boontoe te gee. “Ons enigste opsie is om klubspelers te identifiseer. Gelukkig beskik Boland oor topklubs waar daar genoeg talent is. “Ons sal hoofsaaklik kyk na klubs in die Premier- en Superliga, maar sal ook uitkyk vir versteekte talente in die laer ligas,” sê Pienaar. “Kyk maar na Jongi Nokwe (Springbokvleuel en voormalige Bolandspeler wat die naweek ’n rekord vier drieë in ’n toets teen Australië gedruk het). Hy het eers vir ’n laer klubspan gespeel, en kyk waar is hy vandag. “Verder het Boland ’n rugby-akademie waarheen ons spelers probeer lok, asook ’n o.21-span wat goed doen, maar daardie spelers speel in elk geval klubrugby.” Dit gaan moeilik wees, maar die Kavaliers is ’n trotse span met ’n ryk tradisie. Dit is net ’n kwessie van tyd voor die volgende Nokwe sy Kavaliers debuut gaan maak, want in die Boland wemel dit van rugbytalent. “Hou gerus vir Earl Lewis dop, die o.21 heelagter wat tans saam met die SA sewesgroep oefen,” voeg Lewis by oor een van die Kavaliers se toekomstige sterre.
* ’n Verdoelde drie, nadat die sirene reeds gegaan het, was die enigste punte wat die Boland Kavaliers Vrydag op Boland-stadion kon aanteken in hul 41-7 nederlaag teen die Haaie. Hoekom albei spanne in hul swart truie gespeel het, en dit op ’n modderbad wat sake verder bemoeilik het, weet nugter. Dit is egter onwaarskynlik dat die truie die oorsaak was vir die Kavaliers se vasval, want terwyl die tuisspan net swart kon sien, was die wit van die doellyn die enigste kleur in die Haaie se sig. Soos die Kavaliers, was die Haaie ver van hul beste spelpeil af en het die besoekers eenvoudig hul balbesit beter beskerm. Soos verwag het beide spanne mekaar pap gelak en was ’n taktiese benadering die resep wat beide spanne gevolg het. Die Haaie kon teen rustyd met slegs 10-0 voorloop, maar het vroeg in die tweede helfte twee drieë behaal wat sekerlik die wind uit die Bolanders se seile gehaal het. Die KwaZulu-Natallers het deurgaans hul baldraers uitstekend aangewend en sodoende hul agterhoede gemaklik op die voorvoet geplaas. Die Kavaliers het sake vir die Haaie nie maklik gemaak nie en dit het nooit gevoel of die besoekers oor hul teenstanders geloop het nie. Reg teen die einde van die wedstryd het die Kavaliers se Alvin Hugo darem gesorg vir ’n bietjie sonskyn toe hy ’n puik individualistiese drie gedruk het om aan sy span ’n troosdrie te besorg. Justin Peach het dié drie verdoel. Die haaie se drieë is gedruk deur Brad Barrit, Jacques Botes, Waylon Murray (2), Keegan Daniel en Chris Jordaan. Die Franse spelskepper, Frederic Michalak, het drie doelskoppe behaal terwyl Rory Kockott een doelskop aangeteken het.
More
News
|