EK reageer op die klagte van Ou Paarliet oor Nieu-Seeland. Ek en my gesin woon nou vir amper ’n jaar in ’n pragtige plekkie in NieuSeeland genaamd Milton, 45 km vanaf Dunedin in die suidelike deel van NZ.
Die mense is baie vriendelik en ons hoef nie ons deure te sluit as ons iewers heen gaan nie. Ons kinders kan ons ook na die winkels stuur sonder enige vrees dat hulle beroof of verkrag sal word.
By geleentheid het ons seun hom tydens ’n rugbywedstryd beseer en hoef ons nie enige gelde te betaal het vir sy doktersbehandeling nie.
Ons kleinste dogtertjie (drie jaar) is in ’n crèche en ons betaal minimaal vir onderwysers wat baie nougeset is op hul onderrig.
Waar ek en my gade in SA moes werk om die pot aan die kook te hou, hoef ek nou net te werk en my salaris betaal vir alles.
Ek dink Ou Paarliet het sy geld gemors en nie noukeurig daarmee gewerk nie. Ek sal andere aanraai om hiernatoe te kom, maar ook die uitdagings aan hulle uitspel. Hy moes beter beplanning en navorsing gedoen het, dan sou hy ’n ander deuntjie gesing het.
Ek wonder net van watter Suid-Afrikaners hy praat, aangesien dié wat ons ken, al in die drie of vier jaar wat hulle hier was al in verskillende bevorderingsposisies is. Daar word nie na jou velkleur gekyk nie, maar na hoe hard jy werk.
Vroue kry gelyke geleenthede en daar is baie meer vroue in bestuursposisies.
My seun het sy handdoek by die openbare swembad vergeet, en dit was na twee ure nog op dieselfde plek gekry.
Sou dit so gewees het in SA?
My kinders is verbaas om te sien, daar is lekkers te koop by stalletjie is onbeman. Jy los bloot jou geld en neem die goedere.
Dit is wat ons ons kinders wou gee, nie kom ryk word nie. Net ek werk, maar ons het twee voertuie. Die een word binnekort klaar betaal, die ander een is klaar betaal.
Daar is die verlange en ons mis die boerewors, atchar, wors, biltong en ander eg-SA eetgoed, maar ek kan my huis se deur oop los en weet daar sal nie ingebreek word nie.
Daar is geen bedelaars en karwagte nie, en almal is gelyk.
As dinge môre in SA verander, kom ek sak en pak terug, want jou land bly jou land, maar dit wat ek nou my gesin kan bied deur hier te bly, kan geen geld vervang nie.
Ou Paarliet moet eerder vir sy landgenote aanraai om navorsing te doen, en eerder permanente verblyf of ’n werkspermit bekom, of om met vakansie te kom met die doel om te werk - daar is so ’n visa ook. Dan kan hulle self alles kom deurkyk.
Ek is nie eenkeer spyt dat ons gekom het nie, maar het baie deeglik navorsing oor die land gedoen.
Gelukkige Miltonian