EK bly in Komaggas sowat 60 km noordwes van Springbok, maar ek is oorspronklik van Newton. Ons dorpie is ook rugbyliefhebbers.
Ongelukkig weens ons land se verlede is die meeste van die rugbyliefhebbers ondersteuners van die All Blacks.
Met die aanwysing van Peter de Villiers as Bok-afrigter was daar ’n soort afwagting, maar ook ’n mate van pessimisme want “Julle sal sien as die Bokke verloor, sal die mense sê dis omdat hy nieblank is.”
Ek wil vir Peter sê dat hy moet voortgaan met die nuwe styl van rugby speel. Dit laat my dink aan die manier hoe ons geleer was om in die ou Saru-bedeling te speel. Ons was nie groot nie, maar kon dink op die veld en kon mooi rugby speel.
Enige rugbyliefhebber kan sien dat die Bokspelers sukkel om te dink op die veld. Hulle kan baie goed speel as hulle volgens ’n wedstrydplan moet speel, maar as hulle self moet dink op die veld, sukkel hulle.
Soos ek dit sien, wil Peter hulle net leer om op die veld te dink en self besluite te neem. As ons na die Drienasies kyk, sal ons sien dat die Bokke in elke wedstryd genoeg kanse geskep het om die wedstryd te wen, maar net afronding het ontbreek.
Peter moet nie toelaat dat ander hom in sy visie beïnvloed nie. Hy sal baie suksesvol wees.
Hy het ook gewys dat ons anderskleuriges ook goed kan rugby speel. Kyk maar na Adi Jacobs. Ons sal seker nou al van hom vergeet het as dit nie vir Peter was nie.
Peter is ons eie en ons moet hom ten volle ondersteun.
Christo Present