Dwars-in-die-Weg sentrum open
2008-09-11
MET die opening van Dwars-in-die-Weg kry die Paarl ’n nuwe slagaar wat lewe na die middedorp bring. Boonop vestig dié ontwikkeling tussen Hoof- en Pastorielaan opnuut aandag op een van die Paarl se mees historiese hoekies. Sowat twee jaar gelede het die ontwikkelaar Johan Pauw met sy vennoot John Downes die woonstelgebou Vooruitsig in Pastorielaan gekoop. Die vervalle gebou het dringende aandag nodig gehad. Die omliggende geboue het die ou saaltjie van 1875 (toe ’n rottangwinkel), asook die Kannalandgebou uit die laat 19de eeu ingesluit. Johan Pauw het gemeen hierdie hoekie verdien om deur hernuwing en nuwe winkels weer lewe te kry. Die Vooruitsig-gebou is ten volle gerestoureer en spog nou met moderne keur-woonstelle wat verkoop is. Die winkel- en kantoorgebou op Hoofstraat (oorkant Paarl biblioteek) het ’n praktiese opgradering en aantreklike verandering ondergaan en sluit winkels op grondvlak in met’n houtdek aan die agterkant. Ook die saaltjie wat die rottangwinkel gehuisves het, is opgeknap en huisves nou ’n meubelwinkel met leermeubels en bykomstighede. Elke klein winkel is as spesialis-winkel ingerig en toegespits op die verbruiker wat besonderse gehalte-produkte soek, van deli-kos tot kuns en klere en op-die-perseel-geroosterde koffie. Ruim en aantreklike kantoorspasie is op die tweede en derde verdiepings ingerig met onder meer ’n prokureursfirma op die tweede verdieping. Die Bokamer heel bo met sy aantreklike koepeldak en daktuin is ’n onthaallokaal wat bedien word deur die gesellige Eethuis-restaurant in die ou Kannalandgebou. Met die kunskenner en galery-eienaar David Zetler as kurator, sal die ontwikkeling ook ’n tuiste vir die kunste wees. Maar die kompleks gaan ook kunstenaars, veral plaaslikes, ’n ruimte gee om ten toon te stel en almal die kunste te laat vier. Met oorgenoeg parkeerplek voor die Taalmuseum, gaan Dwars-in-die-Weg ’n nuwe tydvak vir hierdie spesiale klein omgewing in die Paarl inlui - net mooi waar die 12 kilometer lange Hoofstraat sy halfpadmerk bereik.
More
News
|